Die polisie in Warden in die Vrystaat ondersoek ’n saak van poging tot moord nadat ’n pasgebore babadogtertjie Maandag deur ’n gemeenskapslid langs die R712-pad buite Warden gevind is. Die baba was glo in ’n plastieksak.
AO. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê die polisie is gister (Saterdag) omstreeks 19:35 na die Thebe-distrikshospitaal in Harrismith ontbied nadat hulle inligting oor die baba ontvang het.
“Die baba is per ambulans na die hospitaal geneem. Daar was geen biologiese ouer of voog saam met die baba nie,” het Mophiring gesê.
“Volgens inligting het ’n gemeenskapslid die baba die Maandag langs die R715-pad – tussen Warden en Bethlehem – in ’n swart plastieksak gekry. Die baba se naeltjiestring was na bewering nog aan haar vas.”
Die baba sterk tans in die hospitaal aan en volgens Mophiring gaan dit goed met haar.
“Enigiemand met meer inligting oor waar die biologiese ouers hulle moontlik bevind, kan die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Vrede by 079 502 7871 kontak of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
17 Kommentare
Sleg bly maar sleg. Om ‘n baba weg te gooi moet mens GEEN gewete hê nie.
Die tyd waarin ons leef…
Daar is dan deesdae plekke waar jy jou babatjie kan neem.
Hoekom dan die weerlose mensie langs die pad los?
Ek verstaan dit nie.
Regtig………….as ‘n baba langs die pad neergesit is bewys dit maar net een ding dat die arme babetjie se ouers haar beslis nie wou hê nie, hoekom nog moeite doen om die ouers op te spoor. Dat die dogterjie liewer aangeneem word deur ouers wat vir haar lief sal wees. Beslis sal die biologiese ouers haar weer leed aandoen as sy in hul sorg geplaas moet word.
Nie eers ‘n siek straatbrak sal so iets aan haar kleintjies doen nie!