Pasgetroude man verongeluk op N4

Johnny O’Neill. (Foto: Verskaf)

Johnny O’Neill (45) was skaars drie maande getroud toe ʼn vragmotor sy bakkie op die N4 naby Schoemanskloof in Mpumalanga reg van voor getref en hy op die toneel dood is.

Nou moet sy familie en sy weduwee probeer om die stukke van hul lewe op te tel ná sy skielike dood.

Maroela Media het vroeër berig dat vyf mense, onder wie drie Nederlandse toeriste, Vrydagoggend in die gru-ongeluk dood is. ʼn Vragmotor het glo ʼn minibustaxi – wat die toeriste vervoer het – teen die kant getref, waarna die vragmotorbestuurder beheer oor die voertuig verloor en met Johnny se voertuig gebots het.

Hy en vier ander mense is op die toneel dood verklaar, terwyl vier ander ernstig beseer is.

Johnny, wat in die Machadodorp-omgewing geboer het, was op pad huis toe ten tyde van die ongeluk.

Sy jongste suster, Colleen Engelbrecht (38), sê dit was ʼn groot skok vir die hele familie om van Johnny se dood te hoor.

“Almal wat hom geken het, het geweet van sy omgee en liefde en veral sy liefde vir braai en die wildtuin,” sê sy.

“Hy het talle mense se lewe aangeraak en sal baie gemis word deur ons en die gemeenskap.”

Verskeie mense het reeds sedert Johnny se dood hul meegevoel met die familie op Facebook betuig.

Johnny het in November verlede jaar getrou.

“Hy en sy vrou, Christélle (36), was aan die begin van hul lewe saam. Hulle was baie geheg aan mekaar en het alles saam gedoen,” sê Colleen.

“Die liefde was oneindig tussen hulle.”

Die paartjie het ʼn 15-jarige seun saam.

Volgens Colleen sal ʼn gedenkdiens die komende Vrydag in Dullstroom vir Johnny gehou word waar sy gesin en naaste familie afskeid kan neem.

Johnny word oorleef deur sy vrou en kind, asook sy bejaarde ouers, twee susters en ʼn broer.

Die LUR vir gemeenskapsveiligheid in Mpumalanga, Vusi Shongwe, het vroeër sy kommer oor die gereelde gru-ongelukke in die provinsie uitgespreek en het motoriste gemaan om waaksaam te wees.

“Ons moet almal ons deel doen om ongelukke hok te slaan.”

Hoewel dit lyk asof die vragmotorbestuurder aanvanklik beheer oor die voertuig verloor het, word die presiese oorsaak van die ongeluk steeds ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Heinrich

“Ons moet almal ons deel doen om ongelukke hok te slaan.” Jammer, die taxis gaan uit hulle pad uit om te reels te oortree, die regering is te bang om hulle vas te vat. Hier is nou weer ‘n ongevraagde dood.

Althes

My innige simpatie aan sy geliefdes.

Jacques

Het die pad baie gereeld gery na Moz laaste paar jaar. 4-5per maand. Die erts trokke sluit aan van Lydenburgpad en hulle jaag soos maenjakke. Dit gaan so tot in Maputo.

Melli

Baie sterkte aan sy naasbestaandes!

Skappie

Sterkte aan sy vrou en seun en die res van sy gesin. Mag onse Liewe Heer julle almal styf in Sy arms vashou in hierdie moeilike tyd wat vir julle voorle.