Pasiënt (26) se dood by Helen Joseph ondersoek

Die Helen Joseph-hospitaal in Auckland Park, in die weste van Johannesburg. (Foto: Facebook)

Die Gautengse departement van gesondheid ondersoek die omstandighede rondom die dood van ’n pasiënt by die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg.

Sichelesile Dube (26) is Dinsdagmiddag dood in ’n rolstoel in die ongevalle-afdeling van dié hospitaal op die presiese plek aangetref waar haar ma haar die dag vantevore in die sorg van mediese personeel gelaat het.

Haar mond en oë was steeds oop. Daar word beweer dat ’n ernstige siek Dube ongesiens in die rolstoel gesterf het sonder om enige mediese aandag te ontvang.

Jack Bloom, die DA se woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, het Vrydag sy skok uitgespreek oor die dood van ’n pasiënt wat “geïgnoreer is en eindelik gesterf het”.

“Hierdie verskriklike verhaal beklemtoon weer eens die verwaarlosing wat baie pasiënte by Helen Joseph se ongevalle-afdeling beleef. Die eenheid is oorvol en pasiënte wag dae lank voordat hulle in ’n saal opgeneem word.”

Bloom sê voorts die situasie by die betrokke ongevalle-afdeling is intussen vererger weens die druk wat die Covid-19-pandemie op die gesondheidstelsel plaas en die addisionele pasiënte wat na dié hospitaal stroom weens die tydelike sluiting van die Charlotte Maxeke-hospitaal.

Bloom meen dit is egter geen verskoning vir die swak bestuur wat tot Dube se dood gelei het nie.

Bloom sê hoewel daar dadelik ondersoek ingestel moet word, is ’n volledige taksering van die Gautengse departement van gesondheid ook nodig sodat beskikbare fondse effektief bestee word om voldoende personeel en toerusting by alle openbare hospitale te verseker.

Die departement het Vrydag gesê hy het met ontsteltenis kennis geneem van Dube se dood en ’n ondersoek is gelas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Anel ·

En hulle voer Kubane in en dan wil hulle nog ‘n NGS begin!!! Behoede ons. Jammer vir die familie wat ‘n geluefde ol so ‘n manier verloor het. Onmenslik!!

Annelie ·

Die probleem by Staatshospitale: Onbevoegde en onbekwame personeel, luiheid, min of geen respek vir pasiënte, geen of min werksetiek. Die personeel wat iets beteken is te min om werklik ‘n verskil te maak en ek laat my nie vertel dat die Minister van gesondheid nie van hierdie probleme bewus is nie. Laat die regeringsamptenare ook na Staatshospitale toe gaan vir mediese behandeling as hulle siek is in plaas van oorsee na Privaat mediese sorg. Wat n skande!

melaney ·

Die Minister van Gesondheid is te besig met sy eie probleme. Hy het nie nou tyd om sy aandag aan iets anders te wy nie.

Nie Verbaas ·

Ek stem 100% saam. Soos ek vantevore gese het, as ons nie n familielid gaan uithaal het uit n staatshospitaal nie was die persoon nie meer met ons vandag nie. Dit is skokkend om te sien hoe pateties hulle werklik is.

David ·

Covid het nie dinge vererger nie. Die onbevoegde staat met sy on bevoegde denkwyse wat aandring om onbevoegdes met onbevoegde denkwyses in diens te neem het die hele land versleg.

loddertjie ·

Skokkend maar nie snaaks vir staatshospitaal nie. Jy is gelukkig as jy gehelp word voordat jy dood gaan.

Bertie ·

Die geagte minister is net so onbevoeg, onbekwaam, lui, geen respek vir ander mense, en geen werksetiek nie.

Gerhardus ·

Dit gebeur gereeld by staatshospitale. Dit is niks nuuts nie. Moenie Covid die skuld gee vir julle onbevoegdheid en ongedissiplineerde personeel nie. Hulle kom al lankal nie hulle Hippokratiese eed na nie.

Tanniepetoors ·

Swak dienslewering is gelukkig nie die norm by alle staatshospitale nie.

Vlooitjie ·

Dalk nie, maar nog steeds by die oorgrote meerderheid ongelukkig. Daar behoort GEEN swak dienslewering by enige hospitaal te wees nie.

Jaco ·

As die slagoffer nou wit was, kon ek dit nog verstaan. Dan was dit maar deel van die ewige “straf” vir apartheid. Maar in dié geval was our people lelik met our people. Hoe dan nou? Wat dan nou van Black Lives Matter en human rights en ubuntu?

Vlooitjie ·

My grootste vrees is om eendag hulp vanuit ‘n Staats hospitaal te moet kry. En my grootste dankbaarheid is dat ek tans nog ‘n mediese fonds het. Ek het nog nóóit ‘n aangename of profesionele ondervinding gehad met die kere wat ek iemand moes begelei soontoe nie. My ondervinding was nog nét totale disrespek vir pasiente, geen deernis nie en onbeskofte personeel wat jou net sien as nog ‘n nommer. My innige simpatie aan die familie wat hierdeur moes gaan óók.

Porseleintjie ·

Dis maar standaard prosedure. My pa is Mei maand na Baragwana hospitaal gestuur. Hy moes dringend bloed ontvang. Was voor 12 die oggend reeds daar. Twee uur die vlg oggend het hy nog geen bloed ontvang nie. Hy is na n saal geneem en ons mag hom nie gesien het nie. Elfuur daardie selfde oggend ontvang ons die oproep dat hy oorlede is. Dankie aan SA se gesondheids stelsel vir jul wonderlike hulp aan die weerloses. Die hopies word al meer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.