Pasiënt in hospitaal vermoor

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 22-jarige man verskyn Maandag in die hof nadat hy glo ʼn 37-jarige pasiënt by ʼn hospitaal in die Oos-Kaap vermoor het.

Lt.kol. Mzukisi Fatyela, ʼn polisiewoordvoerder, het gesê die verdagte en slagoffer het albei behandeling in die All Saints-hospitaal in Ngcobo ontvang. “Die man en die slagoffer was saam in dieselfde saal,” het Fatyela gesê. Die slagoffer is vroeg Vrydagoggend met ʼn staalpyp doodgeslaan.

Sizwe Kupelo, ʼn woordvoerder van die departement van gesondheid, het gesê die twee pasiënte het die vorige aand saam in ʼn badkamer gesit en rook. “ʼn Verpleegster het in die vroeë oggendure ʼn rumoer in die saal gehoor en gehoor toe die staalpyp op die grond val,” het Kupelo gesê. “Sy het gaan ondersoek instel en gesien die slagoffer is aangerand en lê op sy bed.”

Die verpleegster moes veiligheidsbeamptes ontbied om die vermeende aanvaller te bedwing. Hy was glo “onbeheerbaar en wild”. Kupelo het gesê hy is vir epilepsie in die hospitaal opgeneem. Die 37-jarige slagoffer het ʼn chroniese siekte gehad.

ʼn Taakspan is aangestel om te ondersoek wat die twee mans in die badkamer gerook en wat daartoe gelei het dat die verdagte gewelddadig en wild geraak het.

Fatyela het bevestig die verdagte is in hegtenis geneem op aanklag van moord. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.