Pasiënt in Krugersdorp-hospitaal aangeval

Argieffoto van Gwen Ramokgopa, LUR vir gesondheid in Gauteng (Foto: ANA/Jacques Naude)

Gwen Ramokgopa, LUR van gesondheid in Gauteng, het Sondag ʼn aanval op ʼn pasiënt by die Dr Yusuf Dadoo-hospitaal in Krugersdorp veroordeel.

Die man is glo deur ʼn groep ontstoke lede van die gemeenskap aangeval.

“Ons is hartseer en geskok om te hoor dat ʼn pasiënt, wat ná ʼn onderonsie in Munsieville met ʼn ambulans na die hospitaal gebring is, deur ʼn groep mense aangeval is. Hy is uit die ongevalle-afdeling getrek en is met klippe bestook,” het sy gesê. Die groep het met drie of vier minibus-kombi’s by die hospitaal opgedaag.

Die pasiënt het na bewering ʼn ander man in Munsieville met ʼn mes aangeval voor hy self beseer is en na die hospitaal gebring is. Ontstoke lede van die gemeenskap het vervoer gereël en die ambulans na die hospitaal agtervolg.

Ramokgopa het gesê gemeenskappe moet nie die reg in eie hande neem nie. “Ek maan ons lede van die gemeenskap om gesondheidsorgfasiliteite te respekteer en te beskerm, omdat hulle ʼn lewensnoodsaaklike diens lewer aan diegene wat mediese behandeling benodig.”

Die saak is by die polisie aangemeld. “Die voorval moet ten sterkste veroordeel word en die oortreders moet vervolg word.”

Sy het die pasiënt Sondag in die hospitaal besoek waar hy om sy lewe veg.

Sy het gesê beradingsdienste sal verskaf word aan gesondheidswerkers wat die voorval aanskou het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

willem Botha ·

Die voorval bewys weereens die afwesigheid van die saps en die disrespek wat kriminele vir hulle het ,dit is nie n honderd jaar nie dan roof en plunder die kriminele die polisie stasies

Realis ·

Hoewel dit nie polities korrek is nie en baie liberale hartjies gaan ontstel, is dit ‘n nodige euwel om die balans te herstel. Laat die straf by die oortreding pas, dadelik. Na die tweede of derde krimineel wat deur die vigilantes uitgesorteer is sal misdaad dramaties afneem in daardie gebied. Werk al vir baie jare in die kleiner plattelandse gebiede.

nieBAFUnie ·

Stop asseblief die hoogdawerende (gewoonlik in Engels) veroordeling ,klim uit jul gemaks-sones en begin pro-aktief optree, met ander woorde doen die werk waarvoor jy ‘n helse salaris betaal word. Onskuldige mense gaan beseer word, selfs sterf.

Koos de Meyer. ·

Dit wys maar net weer, die land het wetteloos geword. Anargie, brandstigting, moord, verkragtings ens.

Alida ·

Nou veg hy vir sy lewe en word deur die LUR vir gesondheid besoek.
Gaan seker beste mediese behandeling nog ontvang.
Hoekom val hy iemand met ‘n mes aan?? Wou mos beseer en selfs moor.
Die gemeenskap is ook keelvol vir die dade, net soos ek.
Ons lees nou net van die jammerte en besoek wat die aanrander ontvang.
Wat van die slagoffer???? Wie besoek hom???

ano ·

So, die minister besoek ‘n misdadiger in die hospitaal en se “sorry ” ?

GM ·

Ek stem saam, Alida.
Die kriminele kry vyfsterbehandeling en die slagoffers moet altyd sien en kom klaar.

Anoniem ·

Ja nee danksy die cancer regering, blf en eff is ons een mooi land tot niet . Alles in hierdie land is n gemors en ons moet betaal vir dit met ons swaar verdiende geld fed up.

Karl ·

@Anoniem, moet nie die DA vergeet nie. En klipgooi steve nie.

E.K. die eerste ·

Al wat ek kan sê is: Two wrongs don’t make a right.

Wessel ·

If you live by the sword you die by the sword
As die gereg nie misdadigers gou wil toesluit nie dan gebeur dit

Jeremia ·

Sover my kennis strek is dit die ou Paardekraal-hospitaal net duskant die Paardekraal-monument. Dit is nou in ou Krugersdorp wat juis op die plaas, Paardekraal TOT STAND GEBRING IS.
En al hierdie geërfde plekke en instellings is nou deur die ore getrek.
Moody’s sal aan die einde van vandeesmaand die spyker in die doodskis slaan en dan kom NOG ‘n belasting op brandstof vir al die ou GEKKE vanaf 1 April.
En dan gaan die Gekke stem….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.