Een van die vier pasiënte wat vir ingewandskoors in Johannesburg behandel is, is Maandag uit die Edenvale-streekshospitaal ontslaan.
Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, het Maandag gesê die hospitaal het die departement in kennis gestel dat ʼn 11-jarige meisie van Zimbabwe herstel het en ontslaan is.
“Ons is bly dat die jong meisie goed herstel het en huis toe kon gaan. Sy is met medikasie ontslaan,” het Mabona gesê.
Die departement het Sondag gesê die vier ingewandskoors-gevalle is in Hillbrow, Yeoville, Edenvale en Palm Springs aangemeld, waarvan twee by die Charlotte Maxeke- Akademiese Hospitaal en die ander twee by die Edenvale-distrikshospitaal aangeteken is.
Een van die mense, ʼn 27-jarige vrou van Malawi, is verlede Sondag [17 Januarie] by die Charlotte Maxeke-hospitaal oorlede. Sy het drie weke vantevore na Malawi gereis vir die vakansie en Dinsdag 12 Januarie deur Mosambiek na Suid-Afrika teruggekeer. Die vrou het haar op 14 Januarie by die Hillbrow-gemeenskapgesondheidsentrum aangemeld weens koors, hoofpyn en vomering.
Nog ʼn pasiënt, ʼn 16-jarige Suid-Afrikaanse meisie, is op 19 Januarie by die Charlotte Maxeke-hospitaal opgeneem. Sy het gekla van koors, hoofpyn en vomering. Sy is dadelik met ingewandskoors gediagnoseer. Sy ontvang tans behandeling, is in ʼn stabiele toestand en sterk aan. Sy het glad nie uit die land of buite Gauteng gereis nie.
Twee meisies van Zimbabwe, onder wie die 11-jarige en ʼn driejarige, is onderskeidelik op 13 Januarie en 22 Januarie by die Edenvale-streekshospitaal opgeneem. Albei het klagtes gehad van koors, hoofpyn, lyfpyn en algemene pyn. Hulle is albei ook gediagnoseer met ingewandskoors. Die driejarige is stabiel en sterk aan. Die twee kinders het op 12 Januarie van Zimbabwe teruggekeer nadat hulle die land vlugtig besoek het.
Ingewandskoors (buiktifus) is hoogs aansteeklik en word versprei deur besmette kos en water in te neem. Dit kom algemeen in gemeenskappe voor waar daar nie voldoende sanitasie is nie. Swak persoonlike higiëne bevorder ook die verspreiding van die siekte.
Dit is veral belangrik om hande te was voordat kos voorberei word.
Simptome van ingewandskoors sluit hoë koors, hoofpyn, gewrigspyn, buikongemak en soms vomering in.
As ek moet se wat ek dink sal julle dit weer nie publiseer nie!