Pasiënt met Krim-Kongo-koors in Klerksdorp-hospitaal

Charl Pretorius (Foto verskaf deur Noordwes se departement van gesondheid)

Die departement van gesondheid het bevestig Klerksdorp-hospitaal se eenheid vir hoogs aansteeklike siektes het Charl Pretorius (54) met Krim-Kongo-koors opgeneem.

Pretorius, van ʼn plaas tussen Ventersdorp en Coligny in Noordwes, is Saterdag van Mooimed- privaat hospitaal na Klerksdorp-hospitaal verwys. “Hy is die middag om 16:45 opgeneem met ʼn geskiedenis van Krim-Kongo-koors (ʼn hemorragiese koorssiekte),” het Polaki Mokatsane, uitvoerende hoof van die hospitaal, gesê.

David Leburu, kliniekbestuurder van die Klerksdorp/Tshepong-hospitaal, kom virale hemorragiese koorssiektes natuurlik voor in ʼn verskeidenheid van diere en insekte, gewoonlik muskiete, bosluise, rotte en vlermuise. “Krim-Kongo-koors word gekenmerk deur koors en bloeding en kan tot hoë koors, skok en afsterwe lei in talle gevalle.”

Prof. Binu Luke, hoof spesialis van inwendige medisyne en tersiêre dienste vir die hospitaal, word organe deur hemorragiese koorssiektes geaffekteer en dit beskadig bloedstollingsmeganismes. “Hemorragiese koorssiektes, soos Krim-Kongo-koors, word gewoonlik beperk tot ʼn gebied waar die diere wat dit dra, leef. Die inkubasietydperk is gewoonlik een tot twee weke.”

Volgens Tebogo Lekhethwane, woordvoerder van die departement, het Pretorius aan die hospitaal gesê hy het op 26 April ʼn naburige plaas besoek en het later die dag ʼn bosluis op sy kop gevind wat hy met sy vingers stukkend gedruk het. Hy het op 28 April hoofpyn gehad en sy vrou het vir hom Panado gegee, maar die hoofpyn wou nie breek nie. Hy het op 29 April ʼn rooi uitslag op sy vel gesien en by Medicross in Potchefstroom aangeklop.

“Hy is by Mooimed- privaat hospitaal opgeneem en bloedtoetse is gedoen. Hy is op 1 Mei ontslaan. Hy is later die dag weer na die hospitaal ontbied weens lae bloedvlakke (waarskynlik plaatjies en neutrofiele). Hy is op 2 Mei by MediClinic- privaat hospitaal opgeneem en op 3 Mei na die hoësorgeenheid van dieselfde fasiliteit oorgeplaas,” het Lekhethwane verduidelik.

“Krim-Kongo-koors is ʼn kategorie 1-toestand, wat beteken die instituut vir oordraagbare siektes moet binne 24 uur in kennis gestel word van enige opname.”

Lekhethwane het gesê die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios) het Krim-Kongo-koors bevestig en die hospitaal se laboratorium in kennis gestel hoe hulle die bloedmonster moet hanteer. “Die pasiënt is na die provinsiale eenheid vir hoogs aansteeklike siektes, wat by Klerksdorp-hospitaal geleë is, oorgeplaas.”

Pretorius is tans in ʼn stabiele toestand. “Hy is by sy bewussyn en gesels en reageer goed op behandeling,” het Luke bygevoeg.

Die span by Klerksdorp-hospitaal se eenheid vir hoogs aansteeklike siektes is hoogs gekwalifiseerd en is ʼn spesialisspan wat bestaan uit verpleegsters en dokters, ʼn infeksievoorkomingsbeheerbeampte, apteker, nooddienspersoneel, Nasionale Bloeddiens en laboratoriumdienste van die departement van gesondheid. “Die span het vinnig, proaktief en entoesiasties reageer met streng toepassing van infeksiebeheer,” het Lekhethwane bygevoeg. “Nog twee hoogs opgeleide verpleegsters van Kimberley in die Noord-Kaap het Maandag by die span aangesluit.”

Klerksdorp-hospitaal is geïdentifiseer as ʼn verwysingseenheid vir hoogs aansteeklike siektes soos, onder andere, Kongokoors en ebola.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Waarheid ·

O my genade arme man
Sterkte aan hom sy familie en dokters.

willem botha ·

Seker net n kwessie van tyd dan spoel die ebola ook oor.

John ·

Sterkte aan die pasiènt en die mediese span! Dis bemoedigend om te hoor dat ons medici het wat goed opgelei is en eersterangse diens lewer. Baie dankie!

PC ·

Ek het 25 jaar gelede kongokoors oorleef. Ons bid en glo dat hy dit ook sal oorleef.

Rene Mare ·

Mag hy die beste behandeling ontvang, en sterkte vir sy geliefdes…… Klerksdorp Hospitaal het nie n goeie geskiedenis in my lewe nie… My Pa is daar oorlede agv verkeerde diagnose en behandeling…. En dit is ook n hospitaal wat n slegte reputasie het by almal wat ek ken. Bid vir jou Meneer, mag jy gebless word!

Johan Pretorius ·

Vyf en twintig jaar gelede was Klerksdorp Hospitaal n goeie hospitaal. Dit is maar net die nuwe Suid Afrika wat van dit n gemors gemaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.