Pasiënt op ‘teregstellingswyse’ in hospitaal geskiet

Die Clairwood-hospitaal in Durban. (Foto: Departement van gesondheid: KZN)

Die DA sê hy is diep bekommerd oor voortslepende veiligheidsprobleme by KwaZulu-Natalse gesondheidsinstellings wat nou gelei het tot die skietdood van ʼn pasiënt op “teregstellingswyse”.

Dr. Rishigen Viranna, die DA se woordvoerder oor gesondheid in KwaZulu-Natal, het gesê die voorval het Vrydagaand ten aanskoue van ander pasiënte en verpleegpersoneel in die Clairwood-hospitaal plaasgevind.

Viranna het gesê die gewapende aanvallers het oënskynlik tot op die hospitaal se perseel gery, sonder dat hulle deur enige sekuriteitspunte moes gaan. Ná die skietery is die deure gesluit, maar die aanvallers het die veiligheidswagte gedwing om dit weer oop te sluit sodat hulle kon vlug.

“Dit laat ernstige vrae onstaan oor die opleiding wat veiligheidswagte by die hospitaal ontvang. Die polisie was glo ook nie op die toneel nie.

“Die DA gaan beslis by die KwaZulu-Natalse gesondheidsdepartement uitvind of die polisie ontbied is, wat hulle reaksietyd was en sorg dat ʼn omvattende ondersoek na die voorval gedoen word,” het Viranna gesê.

“Dit is uiters kommerwekkend dat ʼn oënskynlike professionele sluipmoord in die Clairwood-hospitaal gebeur het.”

Die DA het sy medelye met die pasiënt se familie betuig en nie verder uitgebrei oor die omstandighede waaronder hy aanvanklik in die hospitaal opgeneem is nie. Die party sê die welstand van die slagoffer se familielede en dié van die ander pasiënte en verpleegpersoneel is die grootste prioriteit en hulle moet berading ontvang.

Viranna sê die voorval kom na verskeie ander gewelddadige aanvalle by gesondheidsinstellings in die provinsie.

“Die skokkende voorvalle het weer eens die dodelike kwessie van veiligheid in KwaZulu-Natal se gesondheidsinstellings op die voorgrond geplaas.”

Die DA gaan ook die LUR vir gesondheid in die provinsie vra om die opgradering van veiligheidsmaatreëls by hospitale en klinieke te bespoedig. Dit sluit in verbeterde opleiding vir veiligheidswagte, ʼn CCTV-stelsel, strenger besoekerbeheer en ontruimingsprosedures.

“Daar moet ook nouer samewerking wees tussen sulke instellings en hulle plaaslike polisiestasies. Die aanvallers is nog soek en ons doen ʼn beroep [op die polisie] om die ondersoek te prioritiseer en spoedig inhegtenisnemings te doen,” sê Viranna.

Maroela Media het vroeër berig die National Health, Education, and Allied Workers’ Union (Nehawu) in Noordwes het gedreig om te staak weens die toenemende aantal aanvalle op misdaadslagoffers wat by hospitale om behandeling aanklop.

Nehawu het verlede maand gesê daar was die afgelope feestyd talle voorvalle van geweld in verskeie hospitale en klinieke in die provinsie, veral in ongevalle-eenhede, wat gelei het tot die besering van werkers én pasiënte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Maar julle WAS dan in beheer….en het daarvan afstand gedoen ter wille van ‘n “beter Suid Afrika”?? Onthou jy nou weer?

Stof ·

Humor se naam, pas by die kommentaar…
Dankie aan al my kollegas, wat die stelsel andersins laat vlot. Ek eer julle daarvoor.

Vince ·

Diep bekommerd…DA??? Somtotaal van jul invloed op die land. Bekommer en wonder oor feetjieland wat belowe is.

johan ·

Dit is hoe dit gaan in (PRSA,)piesang republiek van suid afrika in 2020.

Heksie ·

Sekuriteitswagte wat net “wag staan” het nie veel opleiding nie.
In baie gevalle geen opleiding nie, word die persoon net ‘n uniform in die hand gestop en daar gaat jy – goedkoop arbeid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.