Pasiënt se familie val dokter aan

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) het sy skok uitgespreek nadat ʼn pasiënt se familie onlangs ʼn dokter by ʼn privaat hospitaal in Durban in KwaZulu-Natal aangeval het. Die dokter is so erg beseer dat sy in die hospitaal se waakeenheid opgeneem is.

Sama sê die dokter is na bewering deur ʼn man wat ʼn familielid is, aangerand toe dié haar aanspreeklik vir die pasiënt se dood gehou het. Die dokter het gedurende die voorval beserings aan haar gesig opgedoen, waarvoor sy in die waakeenheid van die hospitaal behandel is. ʼn Ondersoek na die voorval is reeds van stapel gestuur.

Sama is nou bekommerd oor ’n toename in aanrandings en die algehele veiligheid van dokters en mediese personeel in hospitale. “Dié voorval is kommerwekkend. Dit is ontmoedigend dat die veiligheid van gesondheidsorgpraktisyns in Suid-Afrika ʼn probleem is wat nog nie as prioriteit gestel word nie,” sê Sama in reaksie op die voorval.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van Sama, sê die aanranding van die betrokke dokter is nog meer kommerwekkend aangesien dit ook ʼn toename in geslagsgebaseerde geweld toon.

Argieffoto (Foto: Parentingupstream, Pixabay)

Coetzee sê Sama is bekommerd oor hoe gereeld aanrandings op mediese praktisyns plaasvind. Sy sê hierdie aanrandings bedreig nie net die lewe en welstand van praktisyns nie, maar ook dié van pasiënte.

“Die veiligheid van alle gesondheidsorgpraktisyns in ons openbare en private instellings is van sleutelbelang. Daarom doen Sama ʼn beroep op die minister van gesondheid en die minister van polisie om die veiligheid en sekuriteit by hierdie instellings dringend na te gaan,” sê Coetzee.

Dokters word aangemoedig om enige veiligheidskwessies by hul werkplek per e-pos aan te meld by [email protected] om sodoende alle mediese instellings te help identifiseer wat veiligheidsrisiko’s inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Cherokee ·

Saai jy liewer op FM uit waarom dit volgens jou, nie skokkend is nie.

Rooikoos ·

“Dit is ontmoedigend dat die veiligheid van gesondheidsorgpraktisyns in Suid-Afrika ʼn probleem is wat nog nie as prioriteit gestel word nie”

Ditto vir die veiligheid van onskuldige boere en hulle gesinne tydens plaasaanvalle.

andre ·

Die enigste prioriteit vir hierdie regering is om hulle eie sakke te vul met ons geld. Niks anders maak saak nie. n Spreekwoord se. “When the last tree is felled, and the last farm is destroyed, they will be shocked to find out you cannot eat the land”

Yolandie ·

So waar Andre. En dan gaan hulle nog ook sê It wasn’t me……en dan blameer hulle dit ook op blanke Suid Afrikaners.

Jean ·

Al was die dokter ‘n man sou hy ook aangeval geword het. Sommige dokters kom weg met moord en dan gebeur daar niks met van hulle nie. Ondersoek die persoon se dood eers.

marius ·

Waarom word geslags gebaseserde geweld opgehaal ? As dit ‘n manlike dokter was , sou dit minder ernstig wees ?

Dries ·

Baie goeie vraag! Wanneer ‘n bejaarde vrou op ‘n plaas aangerand word wil ons ook hoor daar word berig van geslags-gebaseerde geweld, dankie!

RyanSA ·

Ek is doodseker daar steek meer in die storie as wat ons dink.. Hoekom sal iemand die dr net aanval uit die bloute ?

Louise ·

Dis hartseer dat mens geweld in eie hande neem, wonder maar net hoekom iemand so extreme moes optree. N Storie het maar twee kante.

Santjie ·

Nee hel, as dit so aangaan, sal die dokters die mense op die ou einde sms en vra wat is verkeerd en dan telefonies voorskrifte gee. As hulle spreekkamers moet besoek, en byvoorbeeld ‘n griep inspuiting moet kry, dan moet die dokters nou maar van daai gewere kry waarmee wild “ge-dart” word en dan moet die dokter maar so op ‘n afstand die inspuiting toedien…. net om veilig te wees…..

Dries ·

Lyk my geen beroep in die land is meer veilig nie. Op kampusse en by skole word mense deur studente en skoliere aangeval, en nou word dokters en verpleegsters deur pasiente en die se families aangerand!

Pieter J ·

Mense wat skepties staan teenoor geneeshere moet net een naweek deurbring by die ongevalle afdeling van ń staatshospitaal of selfs een dag by sommige klinieke. Die meeste sal agterna traumaberading moet kry. Dit is baie erger as wat die meeste mense van bewus is. Dit is mos maklik om te praat as jy privaat hospitale en dokters gebruik.

Sarel ·

Jeandre/ Marius feite is ook dat ‘n aanvaller 2 keer sal dink om man aan te val en meeste aanvalke op Mediese Dokters of Studente is op vrouens. So glo dit of nie. Maar nou eord dir Dr. Blameer. Nee man alles in die land van Parlement tot Diaree moet mos met geweld reg gemaak word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.