Pasiënt sterf buite kliniek toe wagte nie deure wou oopmaak

Argieffoto: http://www.jameschesley.com/

ʼn Man is oor die naweek by die ingang van ’n kliniek in Northam dood nadat die sekerheidswagte aan diens weens beurtkrag glo nie die deure van die kliniek vir dié ernstige siek man en sy familie wou oopmaak nie.

Die departement van gesondheid in Limpopo ondersoek nou die voorval.

Thilivhali Muavha, woordvoerder van die LUR vir gesondheid in Limpopo, Phophi Ramathuba, sê voorlopige verslae dui daarop dat ʼn kritiek siek manlike pasiënt Saterdag omstreeks 03:00 na die kliniek gebring is vir dringende mediese behandeling.

Die man het in die stadium uit al sy liggaamsopenings gebloei.

Die veiligheidswagte by die kliniek het glo aan die man se familie gesê dat hulle weens beurtkrag nie vir hulle die deure na die kliniek gaan oopmaak nie en hulle het eerder vir die pasiënt se familie die nooddienste se kontakbesonderhede gegee.

Die pasiënt was egter reeds dood toe ’n ambulans eindelik by die kliniek aangekom het.

Die verpleegsters aan diens by die kliniek is na bewering ook eers ná die pasiënt se dood van die aangeleentheid in kennis gestel, sê Muavha.

LUR Ramathuba is woedend.

“Terwyl ons nog wag vir die volledige verslag oor wat gebeur het, is ons seergemaak, hartseer en kwaad oor die bewerings,” sê Ramathuba.

“Om toegang tot gesondheidsorgdienste te weier, is strydig met ons ​​verbintenis tot die handhawing van basiese menseregte. Ons herhaal ons pleidooi aan veiligheidswagte om hul pligte na te kom en hulle daarvan te weerhou om oor die dringendheid van pasiënte se behandeling te besluit, ’n plig wat buite hul kundigheid val.

“Ons innige meegevoel gaan aan die familie van die oorledene.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

domheks ·

Die wag het sekerlik van ‘iemand’ af opdrag gekry om nie oop te maak tydens ‘loadshedding’ nie! Die man het net sy opdrag uitgevoer …

Karoo ·

Wat ‘n skande, en dan wil die staat die werkende klinieke en hospitale ook so kom afbestuur deur die deure oop te gooi…

Gert ·

Skande dat toegangsbeheer deur sekuriteit toegepas word. ‘n Moord klag behoort geopen te word.
Groete

Jacques Dawie ·

Een se nalatige aksie het gely tot n ander se dood, gaan hul aangekla word van moord?

Frank ·

By al die hospitale en klinieke is dit so waar die sekuriteitswagte nie flenter omgee nie en dink hulle is baas van die plaas

Jacobus ·

Viva ANC..!! Hoe kan hulle nie besef die NGV gaan een vet gemors wees nie?????

Riana ·

En Ramathuba is kamstig ‘woedend’? Teen vanmiddag het sy daarvan vergeet.

bolletjie blom ·

Dit kom nou al hoe meer voor dat sekuriteit dink hulle is in beheer. Hulle arrogansie ken geen perke nie.

Jennifer ·

Ek ondersteun maar afstigting, hier lê slegs swaarkry, armmoedde en agteruitgang voor. Ons het die ouens ‘n kans gegee om die and te lei maar hulle het gevaal en dit gaan net van sleg na erger.

hpven ·

Jennifer alles wat jy daar noem word reeds ondervind, die slegter ook. Die slegste het begin.

Nettie ·

“Die man het in die stadium uit al sy liggaamsopenings gebloei.”

Is ek die enigste een wat bekommerd is oor hierdie sinnetjie? Ek hoop daar word DRINGEND ondersoek, kwarantyn ingestel totdat antwoorde gevind is en dat ons terugvoer hieroor sal ontvang.

Sterkte aan die familie. Dit troos sekerlik nie, maar ek dink dit was reeds te laat op daardie stadium. Nogtans is julle erg te nagekom, en ek hoop julle vind berusting in die optredes en verskonings wat nou volg.

Bekkie ·

Orals dink sekuriteits wagte dat hulle die hef in die hand het – met geen maniere nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.