Pasiënte vertel: ‘Só voel dit om Covid-19 te hê.’

Dr Louis Muller saam met sy kollegas net na hy teruggekeer het werk toe (Foto: Verskaf)

“Ek sal nooit weer asemhaal as vanselfsprekend aanvaar nie.”

Só vertel Covid-19-pasiënte wat na ʼn lang siekbed reeds van die virus herstel het. Ondanks van die simptome wat ooreenstem, lyk elke pasiënt se ervarings en herstelpad anders.

Van die pasiënte beskryf die virus as “ʼn erge griep”, en hul simptome het gewissel van koors, lyfseer, moegheid, loopneus, keelseer, kopseer tot respiratoriese simptome wat gepaard gaan met ʼn droë hoes asook ʼn “uitasem-gevoel”. Hulle het ook hul reuk- en smaaksintuig verloor.

Die meeste van die pasiënte sê hulle het die virus vermoedelik by hul werksplekke opgedoen.

Dr Louis Muller en sy kollegas dra rooi maskers ter bewusmaking van Covid-19 (Foto: Verskaf)

“As ek my bed opgemaak het, was ek kort daarna uitasem; asof ek ʼn maraton gehardloop het,” vertel Louis Muller (36), ʼn dokter van Vredenburg, wat op 26 Mei aanvanklik negatief vir die virus getoets het en blakend gesond gevoel het, maar drie dae later in die hospitaal se waakeenheid beland het.

“Ek het binne ʼn kwessie van ʼn uur begin koorsig voel en deurmekaar begin raak en respiratoriese simptome ervaar. Dit het gevoel asof iemand ʼn lepel teen my keel druk en al die asem uit my longe probeer forseer,” vertel Muller. Op dieselfde dag is hy in die Vredenburg Life-hospitaal opgeneem en op ʼn ventilator geplaas. Hy het drie dae lank bewusteloos in die waakeenheid gelê.

“Omdat ek ʼn lewende testament het en ʼn ernstige prognose gehad het, het die dokters die Sondagaand my ouers van Nelspruit af laat kom om my te groet.” Die dokters sou Maandag die masjiene afsit, maar Muller het op die dag wakker geword. “Dit was ʼn wonderwerk van God,” sê hy. Muller het geen onderliggende siektetoestande nie.

Muller is die Dinsdag ontslaan. Hy sê hy het vier weke daarna steeds moeg en uitasem gevoel.

Willie Spies saam met sy susters, Mariechen Ebersöhn (links) en Reinette Greyling (regs) (Foto: Willie Spies, Facebook)

Willie Spies, AfriForum se prokureur, het sy suster, Mariechen Ebersöhn (56), Saterdag vroegoggend weens Covid-19 verloor. Hy sê sy was gesond vir haar ouderdom. Sy het twee weke gelede begin siek voel en vandaar af het haar toestand daagliks versleg. Spies sê hulle was nie bewus van enige onderliggende siektetoestand nie.

Ebersöhn was ʼn week in die Mediclinic-harthospitaal in Pretoria se waakeenheid voordat sy gesterf het. Sy is verlede Maandag verdoof en aan ʼn ventilator gekoppel.

“Sy het lyfseer, moegheid, keelseer, ʼn pynlike droë hoes asook koorsaanvalle gehad. Sy het ook haar smaak- en reuksintuig verloor,” vertel Spies.

Ebersöhn was ʼn onderwyser by die Pretoriaskool vir Serebraal Gestremdes. “Sy het ʼn sagte gees en liefdevolle hart gehad,” sê Spies.

Spies sê hulle kon nie sy suster in die hospitaal besoek nie weens die Covid-19-protokol. “Ek het my suster ʼn week voor haar dood die laaste keer gesien.”

Le Roux (regs) saam met sy broers en susters en hul ma, Adelheid van Vuuren (links voor) (Foto: Verskaf)

Leroux van Vuuren van Kokkedoor-faam sê dit was vir hul familie nét so hartverskeurend om nie hul 82-jarige ma te kon groet toe sy begin Julie in ʼn hospitaal in Potchefstroom weens Covid-19 gesterf het nie. Van Vuuren se ma was amper drie weke in die hospitaal.

“Sy het demensie gehad en nie eers van Covid-19 geweet nie. Sy het gewonder waarom haar kinders haar nie kom besoek nie,” vertel Van Vuuren.

Van Vuuren se ma is oorspronklik vir ’n buikbreuk opgeneem. Afgesien van normale oumenskwale, het sy haar eetlus verloor en was sy heeltyd naar. “Sy het nie ernstige Covid-19-simptome gehad nie. Sy het ʼn week voor haar dood in ʼn koma verval en het gesukkel om asem te kry.”

ʼn Onderwyser (55) van Pretoria, wat anoniem wil bly, vertel sy het aanvanklik nie besef sy is siek nie. Sy het eers ʼn week nadat sy positief getoets het, simptome gekry wat amper drie weke aangehou het.

“Ek kon nie my arms oplig nie weens die moegheid.”

Die onderwyser sê haar kinders het bekommerd geraak toe hulle sien hoe “afgemat” hul ma deur die dag lyk. “Ons was nie een dag angsbevange nie. Ons het vasgehou aan ons geloof,” vertel sy.

Karin en Bernard de Beer saam met hul twee kinders (Foto: Verskaf)

Karin de Beer (40), wie se man (43) vandeesweek positief vir Covid-19 getoets het, sê dit plaas baie druk op hul familielewe. Sy voel asof hul familie verdeel is omdat haar man homself in die slaapkamer moet isoleer en hulle nie eers kan saam eet nie.

“Ek slaap by my dogter in haar kamer. Ek sit my man se kos voor die slaapkamerdeur. Ons moet met hom deur die venster praat,” vertel De Beer.

ʼn Anonieme mediese student (26) van Pretoria het die virus by ʼn medestudent tydens hul rotasies in die hospitaal aangesteek. Hy vertel die eerste drie dae se simptome was die ergste. “My koors was 39 ˚C, my lyf het gebewe en was baie seer. My oë het gepyn. Ek het geen energie gehad nie. Selfs om televisie te kyk was te veel moeite vir my.”

Phia Volschenk (38) van Pretoria sê sy het dit erger verwag.

“Na ek en my 63-jarige ma ons positiewe toetsuitslae gekry het, het dit vir ons soos ʼn doodsvonnis gevoel. Teen die tyd wat ons die toetsuitslae gekry het, was ons reeds oor die ergste simptome,” vertel Volschenk.

Volschenk se ma het hoë cholesterol, hoë bloeddruk en ly aan chroniese brongitis. Sy het in die aande met ʼn suurstofmasjien geslaap.

“Daar kleef ʼn wêreldwye stigma aan die virus wat ’n vrees by my ingeboesem het. Ek glo ons positiewe ingesteldheid het die virus oorwin,” vertel sy.

Die meeste van die pasiënte sê hulle het tydens hul siekbed baie gerus, gesonde kos geëet en die nodige vitamiene geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Dan is daar nogsteeds mense wat die virus beskou as ‘n klug en politiekery, en wat elke regulasie wil argumenteer eerder as om dit net te dien. Wereld wetenskaplikes krap nogsteeds kop. Die omvang van hierdie virus is nogsteeds onbekend. Voorspellings is dat dit nog 5 jaar gaan voortwoed. Selfs al word daar n teenmiddel uitgevind, gaan dit jare neem om biljoene mense in te ent.

Annelize ·

Kyk, dat die politieke leiers en ons eie regering die virus uitbuit vir eie gewin en verskuilde agendas, is ‘n ope geheim. Maar dat die virus homself eg, ernstig en lewensgevaarlik is, dit betwyfel ek nie vir een oomblik nie.

Leeuwyfie ·

Ek vra weereens gee vir ons die statistieke van griepverwante sterftes Mei Junie Julie 2019 teenoor griepverwante sterftes Mei Junie Julie 2020.
Dis die enigste manier om ordentlike vergelykings te maak.
Ek was dodelik siek aan griep na ek die griepinenting gekry het. Kon nie asem kry nie, erg gehoes, geen smaak of reuk sintuie nie. Dis ‘n paar jaar terug. Wat is die verskil aan hierdie jaar? Wys vir my op wit en swart. Vorige winters was ons privaat hospitaal ook vol. Nou word mense wat op die operasie tafel sterf covid gevalle! Ons soek ordentlike inligting van feite wat ons self kan gaan navors. Moenie met ons gevoel speel deur sekere gevalle se ervarings neer te pen nie. Dis die minderheid wat siek word. Die meerderheid het skaars simptome.

Botterblommetjie ·

ek is nie naief nie… ek is ‘n realis… ja, ek glo Covid is hier, en mense kry en sterf van die virus. Maar… volgens ‘n hospitaal het my eie broer na ‘n operasie wat hy moes ondergaan aan covid gesterf… Gaan google en lees oor wat corona is…. Covid 19 spruit uit die corona virus ens. Corona self is griep, verkoue, sinus ens. Is ons toetse nie dalk bietjie sensitief ingestel op corona plaas van Covid 19 nie.. net ‘n doodgewone vraag. Ander vraag is, wat het van mense met griep, pneumonia, verkoue, sinus ens. geword? Ek bedoel, as iemand net effe verkoue simptome het = Covid.. Ek dink as mens jouself doodgewone vrae gaan begin vra gaan jy agterkom dat iets nie balanseer nie…

OW ·

Jy verwar die virus met die siektetoestand.Corona dui die vorm van die virus aan.Dit is ‘n latynse woord vir kroon,maw dit is hoe die virus lyk.Covid 19 is die siektetoestand wat einde 2019 in Wuhan China uitgebreek het en ‘n wêreldwye pandemie veroorsaak het.Baie mense verwar die twee woorde met mekaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.