Pasop vir dié gryp-en-spaanderplekke in die noorde van Pretoria

Argieffoto

Argieffoto

Die Sinoville-polisie in die noorde van Pretoria het ʼn beroep op motoriste gedoen om uiters paraat te wees vir ʼn vlaag gryp-en-spaander-voorvalle wat toeneem in hul polisiëringsgebied.

Mirna von Benecke, woordvoerder van die Sinoville-polisie, het gesê die gevaarplekke is veral op die hoeke van Breedstraat en Sefako Makgathoweg (Zambezi) in Montana, Sefako Makgatho- en Lavenderweg asook Paul Krugerlaan en Lavenderweg in Wonderboom.

“Die meeste gevalle wat aangemeld word, vind vroegoggend tussen 05:00 tot 07:00 plaas en saans wanneer dit begin skemer word,” het Von Benecke gesê.

“Die straatligte deur die poort is ook nie altyd in ʼn werkende toestand nie en maak dit makliker vir die verdagtes. Motoriste wat dié paaie gebruik, word dringend versoek om enige sakke (sportsakke, handsakke en skootrekenaarsakke) buite sig in die bagasieruim van hul voertuie te bêre.”

Sy het gesê selfone en tabletrekenaars moet ook buite sig geplaas word, indien dit nie in die bagasieruim gebêre is nie.

Von Benecke het slagoffers versoek om alle voorvalle by die polisie aan te meld sodat die verdagtes se patroon vasgestel kan word.

Sy waarsku ook dat voertuigdiefstalle en diefstal vanuit voertuie ook aan die toeneem is in die gebied, veral by winkelsentrums.

“By baie van die sentrums begin ‘remote jamming’ weer kopuitsteek. Die publiek moet ekstra voorsorg tref om hul voertuie voldoende te beveilig en die gewoonte aanleer om aan die voertuig se deure te voel of dit wel gesluit is, voordat hulle dit verlaat.”

Voertuigdiewe se gewildste fabrikate is die Toyota Hilux, Toyota Corolla, Toyota Yaris, ouer modelle Mazda, Volkswagen en Nissan 1400.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
danie

Nou as julle weet waar die misdade plaasvind doen iets daaromtrent, wat moet die publiek nou doen. Brits omry,

Gert

Hoekom doen polisie dan nie sigbare polisiering op sulke brandpunte nie.of selfs die privaat sekuriteits maatskappye.Dankie vir waarskuwing.

Koala

Sit n opsporingstelsel in julle voertuie vir diefstal
Jou voeruig sal vir jou se wanneer hy beweeg
Myne doen

Johannes Meintjes

Betreurenswaardig, inderdaad. Selfs binne woonbuurte met ‘n aktiewe GPF of buurtwag word daar tans ‘n eskalasie van misdaad waargeneem – met toenemende brutaliteit en onverskrokke waaghalsigheid. Weereens kan die GPF en buurtwag vrywilligers waardevolle diens aan die gemeenskap lewer deur te help om nuwe tendsense soos hierdie toename van gryp-en-spaander gevalle te monitor. Effektiewe burgerlike beskermingstrukture is ‘n waardevolle bate in plaaslike bestuur en beveiliging.

Deon le Roux

Dankie vir die waarskuwing. Ons word op straat geroof, daar word by voertuie ingebreek, motors gehijack en daar vind smash en grab voorvalle plaas. Verskeie paai word soms toegemaak oor betogings en klipgooiery en ons word versoek om veiliger ander roetes te gebruik. Die volgende stap is seker dat ons in ons huise moet bly om veilig te wees. Ons is geregtig om in veiligheid te beweeg en paaie veilig te gebruik. Verwyder die mense wat goed op robotte verkoop/bedel of net rondstaan. Straatslapers, robot bedelaars en lapswaaier is gewoonlik die skuldiges. Kan die SAPD en Metro Polisie nie ons… Lees meer »