Pasop vir donderstorms hiér

land-grond-landbou-onweer-donderweer-weerlig-wolke-deur-eugene-triguba-unsplash

(Foto: Eugene Triguba/Unsplash)

Die Stad Tshwane se nooddienste is op ʼn hoë vlak van gereedheid geplaas sedert die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) ’n waarskuwing vir moontlike swaar donderstorms van Maandagmiddag af vir Gauteng uitgereik het.

Die weerdiens het vir Maandagmiddag en -aand ’n geel vlak 2-waarskuwing uitgereik vir hewige donderbuie, ontwrigtende reën, hael en rukwinde in Gauteng, die weste van Limpopo en Mpumalanga.

Die weerdiens waarsku dat die stormweer tot oorstromings in laagliggende gebiede, kwesbare formele en informele nedersettings, asook op brûe en paaie kan lei. Mense is ook gemaan om binnenshuis te probeer bly tydens hewige donderstorms.

“Motoriste moet op hul hoede op die paaie wees omdat die reën nat en gladde omstandighede op die pad veroorsaak en sigbaarheid belemmer,” waarsku die weerdiens.

Volgens die weerdiens kan die rukwinde ook skade aan informele nedersettings aanrig.

Thabo Charles Mabaso, woordvoerder van die departement nooddienste van die Stad Tshwane, doen ook ’n beroep op motoriste en inwoners van Tshwane om tydens hierdie stormweer waaksaam te wees om hul veiligheid en dié van medeburgers en geliefdes te verseker.

“Die Tshwane-nooddienste is op ’n hoë gereedheidsgrondslag om te reageer op enige voorvalle wat op ons 107-tolvrynoodnommer aangemeld word,” sê Mabaso.

Maroela Media het vroeër berig reënweer word tot Donderdag in die noordoostelike dele van die land verwag, waaronder die Vrystaat, Mpumalanga, die noordelike gebiede van die Oos-Kaap, die westelike en noordelike dele van KwaZulu-Natal, die oostelike dele van Noordwes, die suidwestelike dele van Limpopo, die oostelike dele van die Noord-Kaap, asook dele van Gauteng.

Die reënweer sal waarskynlik in die meeste van dié gebiede teen Donderdag begin opklaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan ·

“Die Stad Tshwane se nooddienste is op ʼn hoë vlak van gereedheid geplaas”……….sou graag wil weet wat dit beteken? Gaan hulle dus nou begin beplan om te werk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.