Pasop vir haaie in Plet

Foto ter illustrasie. (Foto: Marine Dynamics)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) en die Bitou-munisipaliteit het lede van die publiek gemaan om versigtig te wees wanneer hulle in die see by Plettenbergbaai en aan die Suid-Kaapse kus ingaan. Dit is omdat daar ʼn toename in haaiaktiwiteit in dié gebied opgemerk is. Die haaie vreet vermoedelik aan ʼn walviskarkas wat ʼn ruk gelede hier begin dryf het.

“Die karkas van ʼn boggelrugwalvis is in die gebied tussen Nature’s Valley en Keurboomstrand opgemerk en ons sien ook ʼn wesenlike toename in die teenwoordigheid van haaie wat aan die karkas vreet,” het die NSRI in ʼn verklaring gesê.

“Ons vra die publiek, baaiers, skippers en branderplankryers om asseblief versigtig te wees.”

Die walviskarkas dryf stelselmatig nader aan die land en sal na verwagting binnekort op die strand uitspoel. “Daar word oorweeg om die karkas te verwyder.”

Die NSRI het in Mei ook ʼn waarskuwing vir dele van die Suid-Kaapse kus, onder andere Plettenbergbaai, uitgereik nadat ʼn groot haai by Secrets Beach opgemerk is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.