‘Pasop vir seeskilpadjies’ vra akwarium

‘n Karetskilpad. (Foto: Verskaf)

Die Twee Oseane-akwarium het ʼn beroep op alle Kapenaars gedoen om op die uitkyk te wees vir pasuitgebroeide karetskilpaaie wat op strande in die Wes-Kaap uitspoel.

Dit is ʼn jaarlikse verskynsel wat die lewens van die bedreigde spesie in gevaar stel.

Renée Leeuwner, woordvoerder van die akwarium, sê karetskilpaaie broei jaarliks op strande aan die noorde van KwaZulu-Natal uit, waarna hulle met die Agulhasstroom suidwaarts gedra word.

“Weens beserings, dehidrasie en hipotermie spoel van hierdie pasuitgebroeide skilpaaie op die strande van die Wes-Kaap uit,” sê sy.

“ʼn Groot aantal van hierdie skilpaaie is reeds vanjaar van so ver as Plettenbergbaai en tot so naby as Muizenberg na die akwarium gebring.”

Karetskilpaaie het groot koppe met kragtige kake en is dikwels rooibruin in kleur.

Volgens die nasionale oseaniese en atmosferiese agentskap (NOAA) van Amerika is daar nie ʼn amptelike bevolkingskatting vir hierdie seeskilpaaie nie, maar word daar geglo dat slegs ʼn paar tienduisend karetskilpadwyfies oor is. Hierdie wyfies kan tot 120 eiers op ʼn slag lê, maar tog maak net ʼn handvol daarvan dit eindelik tot in die see.

Die akwarium meen dat ongeëwenaarde gevare die uitgebroeide skilpaaie wat wel die see bereik, in die gesig staar.

“Pasuitgebroeide karetskilpaaie is veral vatbaar vir roofdiere wat gedeeltes van hul omhulsels afbyt. Dikwels wanneer hulle naby aan die kus kom, word hulle maklik rondgetuimel en teen rotse gegooi wat ernstige beserings veroorsaak.”

Boonop kan hierdie pasuitgebroeide seeskilpaaie vir dae aaneen gestrand wees indien hulle hipotermies of gedehidreer is en genoop word om ʼn ompad te vat. Dit kan tot verdere dehidrasie lei.

“Byna al die seeskilpaaie wat vir rehabilitasie na die akwarium gebring word, word deur sorgsame lede van die publiek gered,” sê Leeuwner.

“Sonder die ondersteuning van die publiek en diegene wat van die plaaslike strande gebruik maak, sou honderde seeskilpaaie oor die jare gevrek het.”

Indien hierdie karetskilpadjies volwassenheid bereik, kan hulle vir 80 jaar leef en ʼn gewig van 170 kg bereik.

Seeskilpad aangetref – hoe nou?

(Foto: Verskaf)

Volgens Leeuwner is dit broodnodig om te onthou om nie pasuitgebroeide seeskilpaaie, of selfs volwasse seeskilpaaie, terug in die see te sit indien hulle op ʼn strand aangetref word nie.

“Vind eerste jou naaste skilpadreddingsnetwerkpunt of skakel die blitslyn by 083 300 1663,” sê sy.

Daarna kan die seeskilpad in ʼn droë houer met luggate en ʼn handdoek geplaas word vir veiligheid. Die seeskilpad kan dan óf na die reddingspunt vervoer word óf lede van die publiek moet die blitslyn se instruksies volg.

“Selfs wanneer ons nie van strande gebruik maak nie, kan ons help om seesklipaaie te red. Die keuse om minder plastiek in jou alledaagse lewe te gebruik kan ʼn groot verskil aan seeskilpaaie maak, aangesien die meerderheid van skilpaaie wat rehabilitasie benodig, dikwels plastiek ingeneem het. Vir baie van hierdie seeskilpaaie is dit ʼn doodsvonnis.”

  • Vind meer inligting oor karetskilpaaie hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Diline

Ons as mense is veronderstel om die natuur te bewaar maar op die einde van die dag is ons meestal verantwoordelik vir die verwoeting daarvan. Kyk maar na al die besoedeling en onwettige stropings van wilde diere. Dink dit hang ook grootliks van mens se opvoeding af

Frederick

Ek het al verskeie natuur programme gekyk waar die uitbroei van die skilpaaie gewys word. Elke keer is daar ten minste een fotograaf teenwoordig. Dan word daar foto’s geneem van duisende van die skilpadjies wat gelyk uitbroei en afsukkel na die water. Dan wys hulle hoe seevoels en ander wilde diere die skilpadjies doodmaak voordat hulle die seewater bereik. Hulle noem selfs dat ‘n baie klein persentasie die water haal. Hoekom tree hulle nie tussen beide nie. Of is hulle slegs “foto-grawe”