Pasop vir sterk winde hiér

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het inwoners aan die wes- en suidkus van die Wes-Kaap  en gebiede in die Noord-Kaap gewaarsku om bedag te wees op stormsterkwinde en hoëbrandgevaartoestande wat na verwagting tot Dinsdag sal voortduur. Hoë seedeinings word ook vir hierdie kusgebiede voorspel.

Die weerdiens het vir Maandag ’n geel vlak 2-waarskuwing teen sterk winde – wat skade aan infrastruktuur kan aanrig – in die suidelike dele van die Namakwa-distrik, die Sentrale en Klein‑Karoo, die Kaapse Wynlande en die Tuinroete uitgereik.

Dié winde sal Dinsdag in bogenoemde gebiede –die Tuinroete uitgesluit – voortwoed.

Wayne Venter, weervoorspeller verbonde aan die weerdiens, sê rukwinde van tot 70 km per uur word tot Maandagaand vir dele van die Tuinroete voorspel.

Die weerdiens waarsku ook teen wegholveldbrande wat weens die sterk winde in hierdie gebiede kan uitbreek.

Die George-munisipaliteit het inwoners gewaarsku om nie oop vure te maak nie en om sigaretstompies op ’n verantwoordelike manier weg te gooi.

“Inwoners moet ook let op moontlike gevare wat weens die sterk winde ontstaan. Dit sluit in bome wat kan omval, takke wat kan breek, rommel wat rondwaai en dwarswinde wat motors op paaie kan rondruk,” sê die munisipaliteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.