‘Pasop voor jy regulasies teengaan’, waarsku sakegroep

piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. Foto: Morné Prinsloo

Die regering glo dat die Liberty Fighters Network-uitspraak geen van sy afsonderingsregulasies raak nie, hangende die uitkoms van die appèlaansoek in die hoogste hof van appèl.

Volgens Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het die staatsprokureur die sakegroep Vrydag in kennis gestel dat die departement van samewerkende regering en tradisionele sake by die hoogste hof van appèl aansoek om verlof tot appèl in die Liberty Fighters Network-saak doen.

Die organisasie Liberty Fighters Network (LFN) het in Junie ʼn bevel van regter Norman Davis in die hooggeregshof in Pretoria verkry waarin beslis is dat die afsonderingsmaatreëls ongrondwetlik en ongeldig is. Minister Nkosazana Dlamini-Zuma het teen die uitspraak geappelleer en Davis het haar verlof tot appèl toegestaan. Hy het die minister egter tien werksdae gegee om die irrasionele regulasies reg te stel.

Die LFN se president, Reyno de Beer, het na afloop van die uitspraak gesê die regter het daarmee ʼn einde gebring aan die streng afsonderingstydperk van meer as drie maande. Die LFN is van mening dat die appèlproses “bloot akademies” is.

Volgens Le Roux is die regering egter van mening dat sy appèl die uitspraak in geheel opskort. “Dit is belangrik om in ag te neem dat, reg of verkeerd, die regering glo dat die LFN-uitspraak geen van sy afsonderingsregulasies raak nie, hangende die uitkoms van die appèlaansoek. Daar kan dus aanvaar word dat die polisie waarskynlik tans ooreenkomstig staande bevele optree wat nie verskil van bevele van vóór die LFN-uitspraak op 2 Julie nie, waaronder rakende inhegtenisnemings.”

Mense wat alkohol- of tabakprodukte in weerwil van grendelstaatregulasies verkoop of bedien, of andersins optree op wyses wat deur regulasie 48(2) strafbaar gemaak word, kan volgens die regering dus steeds in hegtenis geneem word.

“Ondernemings en die publiek behoort versigtig te wees vir regsinterpretasies wat impliseer dat die grendelstaat uit ʼn regsoogpunt verby is. Nieteenstaande goedbegronde regsmenings, dat die regering se strafbaarmaking van sekere alkohol- en tabakverkope ongrondwetlik, onredelik en irrasioneel is, bly dit ʼn kontroversiële regsaangeleentheid.

“Om afsonderingsregulasies openlik teen te gaan is nie sonder regsrisiko nie en mense of ondernemings wat die regulasies wil konfronteer, behoort persoonlike regsadvies te bekom ten einde hul opsies deeglik te oorweeg,” het Le Roux gesê.

Die staatsprokureur se skrywe is in antwoord op Sakeliga se versoek op 7 Julie aan ministers Nkosazana Dlamini-Zuma en Bheki Cele, insake staande bevele aan die SAPD.

Sakeliga het versoek dat, gegewe regter Davis se bevinding oor die onwettigheid van regulasie 48(2) van die grendelstaatregulasies, die SAPD opdrag gegee word om hulself van verdere inhegtenisnemings te weerhou.

“Die weerhouding van inhegtenisnemings sou wyser wees, aangesien die regering se volharding met skadelike en regstwyfelagtige regulasies sigself asook die publiek aan risiko’s van onwettige inhegtenisneming, misdaadrekords voortspruitend uit bona fide-misverstande, en meer blootstel,” het Le Roux gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anel ·

Ag, wat. Op my ouderdom gaan misdaadrekord niks aan my doen nie.

Raadslid ·

Wie buig nog voor ‘n kommunis. Die regulasies is ongrondwetlik en onwettig. Ek steur my aan geen Covid-klug regulasie nie. As ‘n winkel my nie sonder ‘n masker toelaat nie koop ek by ‘n winkel wat my toelaat. Die kommunis gebruik Covid om mense te intimideer en bang te maak terwyl die ANC bevelsraad die land totaal onder ‘n kommunistiese bedeling kry. Word wakker mense ons word bedrieg.

Jacques ·

Presies! Een groot bedrogspul. Die regering gee beslis nie om vir mense lewens nie. 20,000 mense sterf jaarlik aan Influenza in SA, ‘n geraamde 260,000 aborsies word jaarliks hier gedoen, hoeveel boere word daagliks aangeval, maar die land word vernietig oor 4,000 Covid sterftes. Siestog! Hier is baie erger dinge aan die kom as Covid.

johan ·

Dit is deur sulke wit mense dat ons vir ewig die onderdaan van die kommunis sal bly. Plaas dat hy se ons moet soos die taxis saamstaan,maar nee dan maak hy die papbroeke bang. Maar die dag sal kom wat ‘n paar wittes wat iets beteken gaan saamstaan,want daar is nie baie van hulle nie.

Jacques ·

Ons moet maar dophou wat die Liberty Fighters Network sê die volgende paar dae. Ek dink die regsopinie is net opinie en verkeerd daarby. Regter Davis het ‘n Bevel gemaak en die staat moet dit uitvoer. Ek hoop LFN gaan terug hof toe vir ‘n remedie.

JJ ·

Alweer regulasies. Kan ons, die lede van die publiek ook regulasies begin maak? Afdanking om nie hospitaalgeriewe voor te berei in Gauteng nie. Tronkstraf vir julle nalate om te reel vir suurstof by die hospitaalbeddens. Robben Eiland toe met diegene wat nie suurstof bestel het nie. Geen begrafnis sonder behoorlike nadoodse ondersoek nie- daar is geen manier hoe die Covid statistiek geldig of akkuraat kan wees nie. Geen salaris vir lede van die Bevelsraad nie.
Koms ons begin die lede van die Bevelsraad volg, Dox hulle, want ek is seker hulle ignoreer hulle eie regulasies. Maak die spul in die aansien van die publiek belaglik en bespot hulle.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.