Paspoort-video: Werknemer is ‘swartgesmeer’, sê vakbond

‘n Skermskoot uit die video.

Die vakbond Nehawu het Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, daarvan beskuldig dat hy in die openbaar ʼn werknemer swartgesmeer het toe ʼn video op sosiale media aan die lig gekom het waar die persoon meer aandag aan haar selfoon gee as aan die werk wat sy by Beitbrug-grenspos moet doen.

Die beeldmateriaal wys hoe die werknemer op haar selfoon doenig is terwyl sy paspoorte by die besige grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe moet stempel. Gigaba het daarna op Twitter bevestig dat dissiplinêre stappe gedoen sal word teen die werknemer.

Die National Health and Allied Union (Nehawu) het Gigaba veroordeel dat hy die werknemer openlik aangespreek het. “Ons verwerp die swartsmeerdery van ons lid in die publiek, in plaas daarvan dat sy aan ʼn interne dissiplinêre proses onderwerp is, indien die departement van mening is dat sy ʼn oortreding begaan het en daarvoor aanspreeklik gehou moet word.”

Nehawu veroordeel ook die voortgesette veroordeling van die lid in die “hof van openbare mening”, tesame met die minister op sy Twitter-rekening.

Maroela Media het vroeër berig die werknemer en drie toesighouers sal onderwerp word aan dissiplinêre stappe.

Mkuseli Apleni, direkteur-generaal van die departement, het gesê die voorval is ʼn direkte oortreding van die beleid wat betref die gebruik van selfone by werkstasies. “Ek is baie besorg dat die persoon met sekuriteitsdokumente werk sonder om aandag te gee aan detail, en eerder aandag gee aan haar selfoon. Ons het met dissiplinêre maatreëls begin teen die beampte en drie toesighouers,” het Apleni bygevoeg.

Nehawu het egter sy lede se werksomstandighede in die departement bevraagteken. “Ons is altyd op die voorpunt daarvan om die aaklige toestande, waaronder ons lede moet werk, aan die lig te bring. Dit sluit die groot werklas en lang ure in, want die departement weier om vakante poste te vul, veral by grensposte.

“Die departement weier ook om enige oortyd te betaal, tog word daar van werknemers verwag om die ekstra myl te loop. Ons hoop dat dieselfde ywer, waarmee ons lid swartgesmeer is, gesien sal word wanneer hulle verseker dat ons lede met waardigheid behandel word en hul bonusse betaal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Ella ·

Siestog oor haar werksomstandighede “swak” is mag sy tydig en ontydig op haar foon wees……….? Die gedrag is algemeen. Ek was vandag in n roomyswinkel en moes wag om gehelp te word. Wou vir haar se kliente is meer belangrik as haar foon maar dit sou dadelik rassisme genoem word. Swak diens in SA is aan die van die dagorde

Westing ·

Hulle maak soos hulle leier maak. Speel games as hulle moet werk. Hoe kan hy vir haar dissiplineer as hy dieselfde doen

Adriaan Swart ·

Miskien moet Nehawu se lede hulle werk doen gedurende werksure dan hoef daar nie oortyd te wees nie.

Siek en sat ·

Dis hoekom ALLES in die land altyd n verskoning het. Ploeter aan. Bla bla n

Alida ·

Beeldmateriaal lieg nie. Sy is skuldig soos 1000’e ander.

Anoniem ·

Julle wou AL die werk hê, blankes moes opsy staan, nou het julle die werk en nou?
Nou kla julle oor die ure, die werksomstandighede, die werklas, die oortyd????? As jy Facebook/internet kan bekostig kan jou geldjies nie te sleg wees nie! ;-) Laat julle WERK soos ONS moes werk, hou op kla omdat hierdie slapgat ontbloot is!

Netta ·

Ons het in 2007 teruggekom vanuit ander land, die dame by O.R.Tambo het ons paspoorte drie keer gestempel, twee verkeerde datums en ek moes haar elke keer daarop wys! En dit was sonder ñ selfoon!

Muffin ·

Ag fakbond NEHAWU skrik wakker. Geen selfoon moet op n werksperseel tegelaat word nie. Dit wil my voorkom julle probeer naam maak en meer lede kry vir jul eie gewin. Wat verkeerd is is verkeerd.

Hanna ·

BEE se leuse: geloofwaardigheid voor kundigheid! Sy is uiters onprofessioneel en boonop onbevoeg. Punt.

peanut ·

Wat praat die sot van bonusse!!!
Met sulke klas werks etiek is sy nie geregtig op n bonus, eerder n waarskuwing!

Corne ·

Ek het aankope gedoen by ń tuisnywerheid in Sinoville en die blanke blonde vrou was besig met ñ Telkom foon om te gesels. Sy het my amper laat loop sonder om te betaal, toe weer die man langs my se aankope begin, toe ons aankope deurmekaar gedoen en n swart vrou wat ook daar werk het toe kom probeer help. Dis heel eenvoudig : Sit neer julle fone wanneer jul kliente help.

Casper Labuschagne ·

Etlike jare gelede het ek vir vriende bygestaan in ‘n besigheid wat hulle pas gekoop het. Ek het uitgewys dat hulle te veel personeel het, en hulle het saamgestem en gevra wie is oorbodig – my antwoord was, “die twee met doktorsgrade in Blackberry.”

Casper Labuschagne ·

Miskien lê die fout by my eie vooroordele, maar die opskrif “werker is swartgesmeer, sê vakbond” lyk vir my al asof dit deel van ‘n patroon is wat ek al in my doen en late opgemerk het. Daar is ‘n bepaalde groep werkers wat nooit vir enigiets die skuld kry nie, want dit is altyd iemand of iets anders as juis hulle.

Ben ·

Ons was in 2013 by die grenspos met Namibië en daar het van die werkers in die kantoor op die vloer gelé en slaap!

Wonder naar net ·

Wat my opval is dat hierdie werker nie een keer opgekyk het om te kontroleer of die foto in paspoort korreleer met persoon wat voor haar staan nie. Nou wonder mens hoekom daar so baie onwettige immigrante in ons land is!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.