Passasier gooi glo taxibestuurder met chemikalieë

Argieffoto: ER24

ʼn Taxibestuurder van ʼn private taximaatskappy het ernstige chemiese brandwonde opgedoen nadat ʼn passasier glo ʼn chemiese vloeistof oor hom gegooi het.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici is Sondag omstreeks 02:00 na die toneel in East Town in Johannesburg ontbied. Daar het hulle die taxibestuurder, in sy 30’s, langs die pad aangetref.

“Hy het erge chemiese brandwonde aan sy hande en gesig gehad. Volgens die man het hy ʼn passasier vervoer en toe hulle by die aflaaipunt kom, het die passasier hom aangerand en ʼn vloeistof oor hom gegooi,” het Vermaak gesê. Dit is nie duidelik of dit suur is wat oor die man gegooi is nie.

Hy het gesê die man is op die toneel behandel voordat hy in ʼn ernstige toestand na ʼn hospitaal gehaas is.

Vermaak kon nie bevestig of die man ʼn Uber-taxibestuurder is nie. Konflik tussen metertaxi- en Uber-bestuurders het in die afgelope maande toenemend opgevlam. Verskeie gewelddadige voorvalle is by die polisie aangemeld, waaronder voertuie wat aan die brand gesteek is en bestuurders wat aangerand is.

Joe Maswanganyi, minister van vervoer, het verlede maand ʼn beroep op taxibestuurders gedoen om die gewelddadige konflik te staak en het gesê hy sal met die bestuurders vergader om ʼn oplossing te probeer vind.

Samantha Allenberg, ʼn woordvoerder van Uber, het intussen op die voorval gereageer en dit as “uiters ontstellend” beskryf. “Ons ondersoek die voorval en het kontak gemaak met die bestuurder se familie om navraag te doen oor sy welstand en ons ondersteuning aan te bied. Ons is gereed om die polisie te help met enige inligting wat hulle mag benodig in hul ondersoek,” het Allenberg gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JoeV ·

Net die eerste sin van die berig gelees; nota – alle taxis in Suid Afrika is privaat. Geen staats taxis hier nie.

Theresa ·

Hierdie geval moet in diepte ondersoek word. Nie onmoontlik dat die chemikalië-gooier dalk van dié is wat so vreeslik ingedoen voel omdat ander mense nou ook kan taxis hê vir publieke vervoer nie. Klink na wraak-tipe gedrag.
Van watter maatskappy is die bestuurder wat beseer is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.