Passasier in bewegende motor geskiet

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Andri Tambunan / AFP)

ʼn 34-jarige passasier is Donderdagaand dood toe ’n onbekende aantal aanvallers op ’n bewegende voertuig op die M4-snelweg in Gqeberha losgebrand het.

Die slagoffer, wat intussen as Makilone Rapelang Emanuel van Motherwell geïdentifiseer is, was een van drie insittendes van ʼn grys Volkswagen Polo.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê die 27-jarige bestuurder van die voertuig en twee vriende het omstreeks 19:30 op die snelweg gery toe hulle ʼn harde geluid gehoor het.

Hoewel dit aanvanklik geklink het soos ʼn band wat bars het hulle glo vinnig besef daar word op hulle geskiet.

“Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor en teen versperrings gebots. Die bestuurder en een insittende het uitgeklim en weggehardloop. Toe hulle later na die voertuig terugkeer het hulle die passasier wat agter in die motor gesit het met veelvuldige skietwonde dood aangetref.”

Die polisie is steeds na die verdagtes opsoek. Die motief vir die skietery is ook nie bekend nie.

ʼn Moordsaak word tans ondersoek. Dit is nie duidelik of die verdagtes in ʼn motor of te voet was nie.

“Die polisie doen ’n beroep op enigiemand wat met die ondersoek kan help om lt.kol. Cokisile Mfunda van die Mountweg-speurtak by 0824421305 te bel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swerwer ·

Sjoe dit klink erg. Ai \hoed het sy hande vol met sy trawante.

Gert ·

Dit klink soos iets uit ‘n Al Capone film, en dit gebeur al hoe meer. Die polisie moet weer polisie word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.