Passasier verdrink toe pad verspoel

Foto ter illustrasie (Foto: Twitter)

ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek, nadat ʼn motor in die water langs ʼn grondpad in die Vrystaat beland en ʼn passasier verdrink het.

Die wit Polo met drie insittendes, almal lede van dieselfde familie, was Donderdag op pad op die R30 van Carletonville na Bloemfontein om ander familielede te besoek. “Dele van die grondpad was egter verspoel en die motor het in die vloedwater langs die pad beland,” het kapt. Stephen Thakeng, woordvoerder van die polisie in die Vrystaat, gesê.

Daar word vermoed dat die motor naby ʼn laagwaterbrug oor ʼn rivier gery het ten tye van die ongeluk.

“Terwyl die voertuig onder die water verdwyn het, kon die 24-jarige bestuurder en ʼn 18-jarige passasier daarin slaag om uit die motor te kom. Die derde insittende, ʼn 26-jarige man, kon dit egter nie betyds uit die voertuig maak nie, en het verdrink.”

Polisieduikers is na die toneel ontbied en die oorledene se liggaam en die voertuig is uit die water gehaal. Die oorlewendes het geen beserings opgedoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.