Die lugredery Air Namibia ondersoek ’n voorval waartydens ses passasiers en twee werknemers beseer is toe hulle met behulp van ’n ondersteuningsmeganisme uit ’n vliegtuig gehelp is. Dié vliegtuig het Vrydag uit Kaapstad by die Hosea Kutako-internasionale lughawe in Windhoek geland.
Paul Nakawa, woordvoerder van Air Namibia, sê in ʼn verklaring die operateur van die meganisme wat passasiers uit die vliegtuig moet help, het soos gewoonlik met sy pligte voortgegaan nadat die vliegtuig geland het. Die meganisme het die eerste twee passasiers van vlug SW 728 moeiteloos afgehelp. Toe hy die volgende paar passasiers wou afhelp, het die meganisme agtertoe gekantel met die passasiers nog op die toestel.
Volgens Nakawa het ses passasiers en twee werknemers van die lugredery geval toe die meganisme omkeer en het ligte beserings opgedoen. Dit is nie bekend of enige van dié passasiers Suid-Afrikaners is nie.
Later sou die lugredery vasstel dat een van die meganisme se gesweisde nate losgekom het.
“Air Namibia erken die erns van hierdie voorval en het ʼn span van lugvaartkundiges saamgestel om ʼn ondersoek te doen,” het Nakawa gesê.
Die meganisme sal nie gebruik word nie totdat dit weer veilig verklaar is.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
15 Kommentare
instandhouding
Normaalweg wys ek nie nietighede uit – maar die opskrif pas nie by die inhoud en klink meer of daar op die verkeerde lughawe geland is
Wat van iets soos ‘ Passasiers beseer toe hystoestel faal / breek / omval / ineenstort’. (Kies een)
Onder die passasiers was ‘n senior Ugandese kabinetslid en sy vrou. Die passasiers was meestal bejaardes, of mense wat indersteuning nodig gehad het omdat hulle in Kaapstad operasies ondergaan het. Mnr Christo du Plessis van Otjiwarongo was een van hulle. Hy het saam met sy vrou, Naomi, en broer, Deon du Plessis uit Kaapstad teruggekeer. Christo ondergaan tans ‘n CT-skandering by Lady Pohamba Private Hospitaal om te bepaal of hy inwendige beserings opgedoen het. Sy broer se enkel is gebreek. Hulle sterk beide nog in dié hospitaal aan. Een van die ander beseerdes is ‘n vrou wie se been vroeër… Lees meer »
Bostaande inligting met erkenning aan Ronélle Rademeyer.
In Namibia erken hulle dat die hyser gebreek het. In Suid-Afrika sou dit die derde mag, sabotasie, korrupsie, die DA, die broederbond, apartheid en dalk Jan van Riebeeck se skuld gewees het.