Passasiers gestrand ná FlySafair vlugte kanselleer

FlySafair B737-4Y0 ZS-JRE (vir Mango) Foto: Bob Adams, Flickr: https://www.flickr.com/photos/satransport/13196984215/

FlySafair B737-4Y0 ZS-JRE (vir Mango) Foto: Bob Adams, Flickr: https://www.flickr.com/photos/satransport/13196984215/

Talle passasiers is vanoggend gestrand gelaat nadat FlySafair twee vlugte tussen Kaapstad en Port Elizabeth (PE) weens tegniese redes gekanselleer het.

Die lugredery het op sy webtuiste gesê dat een van die vlugte onbepaald vertraag is as gevolg van onverwagse tegniese probleme met die vliegtuig. ʼn Ekstra vliegtuig sal glo ingebring word om die vliegskedules te voltooi, maar aansienlike vertragings kan verwag word. Volgens die nuutste kennisgewing op FlySafair se webtuiste sal die eerste vlug eers teen 16:05 vertrek.

FlySafair het ook gesê dat ʼn tweede vlug vanaf Kaapstad heeltemal gekanselleer is en dat passasiers ten volle vergoed sal word vir hul kaartjies.

Die lugredery het gesê hy is bewus van die groot konsert wat vanaand in Kaapstad plaasvind, met verwysing na die bekende popgroep One Direction se vertoning in die Kaapstad-stadion, maar dat hulle alles in hul vermoë sal doen om seker te maak dat aanhangers betyds is vir die vertoning.

Intussen moes die lugredery ook op sosiale media vure doodslaan waar woedende passasiers oor die situasie uitgevaar het. “Ons vra groot omverskoning vir die ongerief en wens dit was slegs ʼn Aprilgek-grap. Ons probeer om ʼn werkbare oplossing te vind,” het FlySafair op sy Facebook-blad gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.