Passasiers gestrand toe Mango vlugte skielik staak 

Passasiers wat die laekostelugdiens Mango gebruik was Woensdagoggend op die O.R Tambo-lughawe gestrand. (Foto: Verskaf)

Passasiers wat van die laekostelugdiens Mango gebruik maak het Woensdag voor dooiemansdeur by dié redery se toonbanke op die OR Tambo-lughawe in Johannesburg aangekom.

Dit blyk dat alle vlugte sonder enige kommunikasie van dié lugdiens tydelik gestaak is. Daar was ook nie ’n enkele personeellid van Mango op verskeie lughawes te sien nie. Dit kom nadat ʼn interne brief van Mango se bestuur aan werknemers verlede week aangedui het dat dié redery alle vlugte vanaf 1 Mei gaan staak, weens ʼn tekort aan geld.

Hennie de Beer, ’n sakeman van die Oos-Rand, het aan Maroela Media gesê dat hy Woensdagoggend noodgedwonge R2 100 vir ’n enkelkaartjie van Johannesburg na Kaapstad op British Airways moes betaal omdat sy Mango-vlug skynbaar gekanselleer is.

“Dit raak ’n blêrrie duur storie om ’n burger in hierdie land te wees,” het De Beer gesê.

“My agent het die vlugte gister met Mango bevestig – alles was in orde. Nou gaan hier niks aan nie. Ek het belangrike afsprake wat ek nie kan misloop nie – ek móét daar wees. Ek moet nog Sondag terugvlieg ook, en weet nie ook nie of Mango dán gaan vlieg nie,” het De Beer gesê.

Passasiers wat die laekostelugdiens Mango gebruik was Woensdagoggend op die O.R Tambo-lughawe gestrand. (Foto: Verskaf)

Volgens de Beer was daar geen vorm van kommunikasie van Mango se kant nie en bly sy oproepe na die lugredery onbeantwoord.

Die lugdiens het Woensdagoggend kortliks op sy Facebook-blad om verskoning gevra vir die onderbreking in vlugte en gesê dat hy aan oplossings werk. Geen redes of verdere inligting is verskaf nie.

Talle onbeantwoorde klagtes hoop sedertdien op dié Facebook-blad op – onder meer van passasiers wat in Zanzibar gestrand is en nie weet hoe hulle nou na Suid-Afrika gaan terugkeer nie.

“Ons is tans op die lughawe gestrand met absoluut niemand om vrae te beantwoord of te verduidelik wat vandag gaan gebeur nie. Ons wag al ure en hier is nie eens plek om te sit nie,” het Jessica Bailey op Facebook geskryf.

Ander passasiers het hul kommer oor terugbetalings van kaartjies uitgespreek.

Niemand van Mango het al op enige navrae op Facebook gereageer nie.

Maroela Media het vroeër berig dat Mango na verwagting van Mei tot Julie vanjaar in sakeredding geplaas word weens ʼn tekort aan geld om krediteure te betaal. Dít blyk uit interne kommunikasie van Mango wat Maroela Media onder oë gehad het.

Die lugredery het egter nog geen amptelike kennisgewing hieroor uitgereik nie en Maroela Media se navrae aan die bestuur bly sedert verlede week onbeantwoord.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Pierre ·

Sterkte aan almal en baie swak smaak van Mango ek hoop ter harte hulle volg in SAL se spoor dit was baie onregverdig teenoor onafhanklike lugrederye wat self profeit baar moet wees maar staats instansies staan bak hand om kop bo water te hou.

Maggies ·

Dit is onaanvaarbaar. Daar moet ge-eis word op ten volle terugbetaling en ook ‘n antwoord.

melaney ·

Nadat jy hierdie berig lees besef jy maar weereens – ons bly in Suid Afrika. Welkom tuis!

Anoniem ·

Vergeet van alle SA Lugrederye en vlieg slegs British Airways wat ten minste betroubaar is.

antieke antie ·

Ek hoop Lift gaan vermeerder. Hulle diens is puik!!!

Stofdonkie ·

Ek volstaan by die my punt, daar is nou ‘n goeie geleentheid vir ‘n privaat instansie om toe te tree tot die lugvaart bedryf. Is hier nie iemnd met so paar miljoen randjies wat die opening in die mark wil vat nie?

JohanR ·

Mango het ‘n Banana geword! Soe dit los nou net BA, Airlink, Safair, Kulula en Lift oor. En ou Gordhan probeer nog SAL red! En om te dink dat Air New Zealand amper elke jaar 1ste of 2de in die wereld is!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.