Passasiers skarrel toe bus vlamvat

Nooddienste op die toneel. (Foto: Netcare 911)

Die passasiers van ʼn bus het Woensdagoggend ʼn noue ontkoming gehad toe dié bus op die N1 in Johannesburg aan die brand geslaan het.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê in ʼn verklaring die passasiers kon daarin slaag om net betyds uit die brandende bus te ontsnap toe dit naby die William Nicol-afrit op die N1 in Fourways in die rigting van Rivonia vlamgevat het.

Volgens Herbst is die nooddienste omstreeks 06:53 na die toneel ontbied waar die brand intussen na die wa van ʼn vragmotor versprei het.

Bagasie het verspreid oor die toneel gelê soos passasiers gespook het om hul besittings te red.

Die verkeer het weens die voorval in die gebied opgehoop. Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê in ʼn verklaring die nooddienste het vanoggend gesukkel om op die toneel te kom weens motoriste wat die noodbaan gebruik het.

Meiring versoek motoriste om plek te maak vir nooddiensvoertuie en liefs nié van die noodbaan of van die skouers van ʼn pad gebruik te maak nie.

“Ons probeer om so gou as moontlik op die toneel van ʼn noodgeval te kom aangesien enkele minute die verskil tussen lewe en dood kan beteken. Ons doen ’n beroep op die publiek op ons paaie om meer vergewensgesind teenoor ons te wees,” sê Meiring.

Die besonderhede oor hoe vanoggend se brand ontstaan het, is onduidelik. Die plaaslike owerhede was wel op die toneel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

9 Kommentare

Danie ·

En die noodbaan is deur SELFSUGTIGE mense gebruik wat GEEN RESPEK aan andere kan betoon nie. Daar is groot fout in ons samelewing.

Selfs toe ek enkele maande gelede in stadsverkeer met noodligte aan met ‘n familielid hospitaal toe probeer jaag het, het die meeste mense nie saamgewerk en padgegee nie. Nee wat, hulle bly in die pad en maak asof hulle nie jy en jou noodgeval respekteer nie.

Ons samelewing is vrot en ons moet ernstig introspeksie doen.

PATTY ·

Danie paar jaar gelede het my skoonseun met hul babatjie wat aanhou skreeu en gil het hospitaal toe gejaag met sy noodligte aan. N firma se bakkie het geweier om pad te gee. Paar dae later stap my skoonseun die firma binne en kla die bestuurder by die eienaar aan. Die antwoord wat hy kry – Bel in sulke gevalle die ambulans dis hoekom hul daar is vir tye van nood. Almal van ons weet hoelank neem n ambulans om op te daag. My kind het net sy kop geskud en gesê hoop nie dit gebeur eendag met jou kinders/familie nie.

Fanie Meintjes ·

Ons almal weet en beleef daagliks hoe taxi’s en dan ook ander voertuie verbysnel in die noodbane. Wetstoepassing is amper “non-existent” en somstyds volg selfs verkeersvoertuie die taxi’s EN nie om hulle af te trek nie. Sou verkeersdepartemente die nodige wetstoepassings OP DIE REGTE PLEKKE EN TYE doen, sal hierdie oproep van hulle nie nodig wees nie. Die wette is reeds daar, dit moet net toegepas word deur verkeer. Dit sal sommer die sterftesyfers op ons paaie ook verminder as daar weer paddissipline is. Tans is daar geen of min respek vir ander padgebruikers op meeste van ons paaie en dit dra by tot die onvermydelike ongelukke en/of padwoede.

Andre ·

Dis n sleepwa wat hulle agter die busse sleep wat jy op die foto sien. Dis amper soos n kalfie agter n trok…

Theresa ·

Die berig sê die brand het “intussen na die wa van ‘n vragmotor versprei”.

Thinus Erasmus ·

Noodbaan sal net oop bly as dit met beton afgesper word!

jennefer ·

Bus vol Zimbabiers oppad huis toe. Hoop nie daar was n gasbottel aan boord nie.

Natascha ·

Eish, wat het nou weer gebeur??? Gaan die staat nou weer help???
Vat die motors summier weg as hul in die noodbaan ry. dit is slegs vir noodgevalle. Maar as die regte mense laat opdaag of glad nie opdaag is dit mos die helpers se skuld, want hul vat soo lank om op te daag. Vat die Do___ vas wat op die noodlyn ry, dit kan n geval wees van lewe en dood.
Enm as boetes nie wil help vir noodlyn gebruikers, vat die motors weg, dit kan werk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.