Passasiers skiet taxibestuurder dood; een vas

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Man is in Empangeni in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem kort nadat ʼn taxibestuurder deur twee passasiers op die R34 doodgeskiet is.

Lt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê die passasiers was omstreeks 16:00 in die minibustaxi toe hulle net buite die dorp gevra het om af te klim. Die 38-jarige bestuurder het stilgehou en die mans het hom doodgeskiet voordat hulle van die toneel gevlug het.

ʼn Polisiebeampte wat nie aan diens was nie het verbygery en gesien hoe twee mans van die taxi af weggehardloop. Hy het vermoed iets is fout, ondersoek ingestel en die liggaam van die taxibestuurder agter die stuurwiel aangetref.

“Die polisiebeampte het saam met ʼn lid van die gemeenskap die mans agternagesit en een van hulle vasgetrek,” het Gwala gesê. “Die verdagte het ʼn rewolwer en drie koeëls in sy besit gehad. Die rewolwer se reeksnommer was afgevyl.” Die ander verdagte is steeds op vrye voet.

Volgens Gwala sal die vuurwapen vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit in die uitvoering van enige ander misdade gebruik is. Dit is nie in hierdie stadium duidelik wat die motief vir die moord was nie.

“Die verdagte is aangekla van moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie. Hy sal binnekort in die Ngwelezane-landdroshof verskyn,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.