Passasiersboot-brand by Hartbeespoortdam word ondersoek

Die boot brand by Hartbeespoortdam op 19 November 2016 (Foto: NSRI)

Die boot brand by Hartbeespoortdam op 19 November 2016 (Foto: NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut het bevestig dat die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (Samsa) ʼn ondersoek van stapel gestuur het ná ʼn brand Saterdag op ʼn passasiersboot by Hartbeespoortdam uitgebreek en vier mense gesterf het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, het gesê die bemanning is omstreeks 14:30 ontbied ná berigte dat die plesierboot, Prime Time, aan die suidoostelike kant van Hartbeespoortdam, naby Pecanwood Estate, brand. Die plesierboot, wat ook as die “partytjieboot” bekend staan, was in daardie stadium met sy bemanning en passasiers aan boord op die water.

“Ooggetuies het berig die agterkant van die 25 meter lange boot het in ligte laaie gestaan en passasiers het na die voorkant van die boot beweeg,” het Lambinon gesê. “Plaaslike bootklubs is geaktiveer en dit wil voorkom of almal met bote in die omgewing reageer het om bystand te lewer. Tussen 25 en 30 privaat bote het aan die reddingspoging deelgeneem.”

Lambinon het gesê volgens inligting wat hulle ontvang het, was daar tussen 156 en 200 passasiers en bemanningslede aan boord die passasiersboot toe die brand uitgebreek het. Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.

Berigte vroeër dat een persoon moontlik steeds vermis word, is verwerp. “Daar kan rekenskap gegee word van alle passasiers en bemanningslede.”

Ooggetuies het dadelik alarm gemaak nadat hulle die brand op die passasiersboot opgemerk het.

“Privaat bote wat eerste by die toneel opgedaag het, het gesê daar was chaos, met talle persone wat in die water gespring het om die brand te ontkom. Na bewering het niemand lewensreddingsbaadjies aangehad nie, maar dit kon nog nie bevestig word nie,” het Lambinon bygevoeg.

“Privaat bote het passasiers uit die water gered en die passasiers van die plesierboot na hul eie bote oorgeplaas en hulle na veiligheid gebring.”

Maroela Media het vroeër berig vier vroue is dood tydens die voorval.

“Een vrou, wat vermoedelik in ʼn toilet vasgekeer was, het vermoedelik weens rookinaseming gesterf,” het Lambinon verduidelik. “Haar liggaam is gevind en sy is dood verklaar. Drie vroue het verdrink en hul liggame is gevind en uit die water gehaal.”

Die liggame van die vier vroue is aan die forensiesepatologie-diens oorhandig. Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek.

Nadat die brand geblus is, is die boot met twee privaat bote na Kosmos gesleep.

Volgens Lambinon het Necsa (Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika) se nood, brand en reddingsdiens, SAPD en ʼn polisie-watereenheid, Hartbeespoortdam-noodreddingseenheid en ambulansdienste saam met NSRI Hartbeespoortdam op die oproep reageer. Pecanwood-veiligheid het ook plaaslike bote versoek om te reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Corrie ·

Baie tragies, so onnodig gewees! RIP en sterkte aan die families!

Alet ·

As hulle reken daar was tussen 156 en 200 mense aan boord- hoe kan hulle sê hulle kan rekenskap gee van alle persone? Weet hulle dan hoeveel mense aan boord was??

Christo van heerden ·

Daar is n naamlys, elke persoon aan boord kry n tag, ek was op toneel.

chris liebenberg ·

drank braai paty hou en sonder lewens baadjies is vir die gewoone boot eienaan onwettig hoe kan n masiewe 2 romp boot weg kom sonder daai verestes is dit weer geld maak in plaas van veilighid ? vra maar net

Ben ·

Chris liebenberg. as jy nog nooit op daai boot was nie moenie komentaar lewer nie.Ons maatskappy was op hom .Die veiligheids briefing was gedoen profesioneel,lekker gekuier.Nooit onveilig gevoel nie.Jy teken n register voordat jy opklim.los die uitslae vir die profesionele mense.Dalk n petrol of gas lek wat kan gebeur

Christo van heerden ·

Alles nie waar in berig nie, ek was daar, nsri het later daar aangekom toe boot reeds teen oewer was.

Ben ·

Moet nie veroordeel as jy nog nie op daai plesier boot was nie.die Briefing oor SAFETY PROCEDURES was gedoen toe ons daarop was .Baie lekker.moet nie drank die skuld gee nie ,drank pryse te hoog om ,om te val kliente wil hulself geniet.Ek ken bote en water en het nooit onveilig gevoel.Hulle kos en diens is baie goed,hoop hulle herstel baie gou.Dalk n petrol of gas lek ongelukke gebeur

Snip ·

Dis so tragies. Voel so jammer vir daai vrouens wat hul lewens verloor het. Sterke aan almal wat deur die trauma moes gaan.

Sarie ·

Dis ‘n tragedie. Jammer vir die mense wat op die boot was en seer gekry het. Kan niemand die goeie punte raak sien nie – die mense wat met privaat bote gejaag het om te gaan help. Dankie samelewing dat ons mekaar nog kan help in tye van nood. Vir die mense wat nou sê daar was heel waarskynlik drank betrokke – maak seker van jou feite. Daar is sommige mense wat in sommige kar ongelukke agv drank omkom. Moenie altyd drank die skuld gee nie. Ongelukke gebeur en dit is wat dit was – ‘n ongeluk.

Sarie ·

Giffie – jy kuier seker net by die riool gedeeltes – daar is gedeeltes waar daar baie aan hard gewerk word om die dam skoon te hou. Gelukkig is daar ‘n raad wat betrokke is om die dam skoon te hou en alles in hulle vermoë doen om die dam skoon te hou. Dit kos baie geld en baie werk en baie tyd en die raad doen dit op hul eie onkostes en tyd. Te danke aan die raad ook wat bestaan uit die privaat boot eienaars wat ingespring het om hierdie mense te help.

Liandie ·

Ek is bitter jammer vir hierdie mense vir die trauma waardeur hulle gaan. Wat my baie omkrap en erg ontstel, is waarom die mense nooit reddingsbaadjies aanhet as hulle op sulke “boottrips” gaan nie. Dis uiters onverantwoordelik. Dis nie die eerste keer dat so ‘n tragedie plaasvind op die dam nie. Is daar dan nie ‘n wet wat bepaal dat mens reddingsbaadjies moet aanhe nie? Sterkte aan almal wat hierdeur geraak word………

E.K. - ek sê net! ·

Liandi – ek stem. Maak nie saak of daar sg “safety briefs” vooraf gegee is nie, iets mbt veiligheid hier is nie nagekom nie. Ek was al op verkeie groot passasiersbote en is hulle baie streng daar. Die bemanning moet ook sorg as iets gebeur, dat alle plekke waar mense moontlik mag wees soos toilette deursoek word. Veiligheid eerste en veral die van passasiers. Dit is ‘n tragedie en dit help nou nie mense vererg hul as daar vrae rondom die veiligheid situasie is nie. As die 3 dames wat verdrink het wel reddingsbaadjies aangehad het sou hul vandag nog heir gewees het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.