Passie, drif moet Blitsbokke nou deurtrek

Argieffoto. (Foto: Springbok Sevens/Twitter)

Die Blitsbokke het die eerste groot struikelblok uit hul pad gerol toe hulle Sondagoggend die kwarteindronde van Wêreldrugby se sewestoernooi in Vancouver, Kanada, ongeskonde bereik het.

Maar nou begin die kat-en-muisspeletjies.

Nadat die Blitsbokke verlede week in Singapoer ʼn ongekende drie opeenvolgende nederlae gely het, is die sielkundige bagasie van ʼn verloorspan hopelik op die lughawe in Singapoer agtergelaat.

Die Blitsbokke het Saterdagaand in hul eerste wedstryd in Groep C vir Spanje met 31-12 geklop, Kanada toe met 19-14 uitgestof en die groepwedstryde afgesluit met ʼn naelskraapse oorwinning van 22-19 oor Australië.

Die Blitsbokke kom in die kwarteindronde teen Samoa te staan, wat tweede in Groep B agter Nieu-Seeland geëindig het. Samoa het twee van hul drie wedstryde gewen, maar is deur die Nieu-Seelanders geklop.

As die Blitsbokke wen, sal hulle in die halfeindronde teen Fidji (onoorwonne in Groep A) te staan kom, wat saam met die Nieu-Seelanders die keur in die groeprondes was.

Ons het nou al geleer om in sewesrugby nie te veel in tellings in die groeprondes te lees nie, maar wat tog belangrik is, is met hoeveel selfvertroue die span speel, hoe goed hulle verdedig, hoeveel drieë hulle druk en afstaan, hoe min strafskoppe hulle afstaan en of hulle op hul wedstrydplan voortborduur.

Wat effe kommerwekkend is, is dat die Blitsbokke 72 punte aangeteken het, maar 45 afgestaan het. Hulle het 11 drieë gedruk, maar ook sewe afgestaan en dit teen swakker teenstanders.

Vergelyk dit met Fidji, wat 98 punte aangeteken en net 31 afgestaan het, terwyl die Kiwi’s met 109 punte spog en net 43 afgestaan het.

Soos telkemale in die verlede sal dit egter nou afhang van die Bokke se vaardighede, passie, geesdrif en hul verdediging of hulle verder gaan vorder.

* Punte:

Suid-Afrika 22 (10): Drieë: Ronald Brown (2), Zain Davids, JC Pretorius. Doelskop: Shaun Williams.

Australië 19 (14): Drieë: Ben Marr, Matthew Gonzalez, Nick Malouf. Doelskoppe: Dietrich Roache (2).

* So speel die spanne in die kwarteindronde (Suid-Afrikaanse tye):

19:40: Fidji t. Frankryk

20:02: Suid-Afrika t. Samoa

20:24: Argentinië t. Engeland

20:46: Nieu-Seeland t. Australië

* Uitslae: Argentinië 12, Frankryk 12; Ierland 19, Skotland 12; Samoa 26, Wallis 12; Nieu-Seeland 40, Japan 14; Kenia 19, VSA 17; Fidji 27, Engeland 12; Suid-Afrika 31, Spanje 12; Australië 26, Kanada 10; Argentinië 26, Skotland 5; Frankryk 29, Ierland 12; Samoa 35, Japan 10; Nieu-Seeland 38, Wallis 5; VSA 20, Engeland 19; Fidji 38, Kenia 7; Suid-Afrika 19, Kanada 14; Australië 38, Spanje 0; Frankryk 21, Skotland 19; Argentinië 26, Ierland 19; Wallis 19, Japan 14; Nieu-Seeland 31, Samoa 24; Engeland 19, Samoa 14; Fidji 33, VSA 12; Kanada 26, Spanje 21, Suid-Afrika 22, Australië 19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.