Pastoor en gesin aangeval oor ‘heksery’

Argieffoto

Argieffoto

Die Limpopo-polisie het Woensdag 17 verdagtes, onder wie twee minderjariges, vir openbare geweld in hegtenis geneem nadat hulle ʼn pastoor en sy gesin in Musina aangeval het weens beweerde heksery.

Volgens kol. Ronel Otto, provinsiale polisiewoordvoerder, het die 70-jarige pastoor glo op ʼn kerklike televisiekanaal erken dat hy by heksery betrokke is en dat sy dogter ʼn “bose gees” is.

“Sommige inwoners het na die pastoor se huis opgeruk en dit aan die brand gesteek,” het Otto gesê.

Die pastoor, sy vrou en hul dogter is deur die polisie gered en na ʼn polisiestasie geneem vir hul veiligheid.

“Drie polisiebeamptes is tydens die voorval beseer en twee polisievoertuie is beskadig nadat die opstokers hulle met klippe bestook het.”

Otto het gesê die groep het ook probeer om die N1-snelweg tussen Musina en die Beitbrug-grenspos te versper, maar die groep is vinnig deur die onlustepolisie uitmekaargedryf.

Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.