Pastoor ‘is getraumatiseerd’, hoor hof

hof-hamer

Argieffoto.

Die Nigeriese pastoor wat daarvan beskuldig word dat hy 30 meisies seksueel misbruik het, het Vrydag in die Port Elizabeth-landdroshof gesê hy het “selfmoord-gedagtes” omdat hy dag ná dag in aanhouding moet sit in afwagting op die uitspraak van sy borgtogaansoek.

Adv. Alfonso Hattingh vir die verdediging het ʼn verklaring van die pastoor voorgelees waarin hy beweer hy is getraumatiseerd deur die gebeure wat sy inhegtenisneming by die lughawe op 20 April voorafgegaan het. “Ek is getraumatiseerd en sukkel om snags te slaap. Ek kry terugflitse en het selfmoord-gedagtes. Ek het versoek om ʼn sielkundige te sien, want hierdie [gebeure] het ʼn impak op my fisieke en geestelike gesondheid,” lui die verklaring.

“Ek voel afgetakel deur die manier waarop ek behandel word. Ek sal geensins erken dat my aanhouding wettig is nie.”

Hy het in die verklaring verduidelik hoe hy op 20 April hardhandig behandel is deur die polisie se taktiesereaksie-eenheid. Hy beweer daar is vuurwapens op hom gerig terwyl hy ʼn toilet binne die lughawe gebruik het.

“Hulle het my gegryp en uit die toilethokkie gedwing. Vier of vyf mans het die badkamer binnegekom en my gestamp. Ek was bang en niemand het my regte aan my verduidelik nie. Hulle het my in ʼn voertuig in geboender en vinnig weggejaag. Die kabelbinders om my gewrigte was pynlik. Ek het hulle gevra of hulle dit ʼn bietjie losser kan maak, maar hulle het my net geïgnoreer en dit nog stywer gemaak,” het die pastoor in die verklaring beweer.

Die pastoor het verder gekla oor die omstandighede waarin hy by die Mount Road-polisiestasie aangehou word. “Hulle het vir my ʼn mat en komberse gegee wat aaklig geruik het,” het hy in die verklaring geskryf. Hy het ook gekla dat die toilette in die gevangenis vuil is. Die pastoor word tans by die St. Albans-gevangenis aangehou en nie meer by die polisiestasie nie op versoek van sy regspan.

Die pastoor het verder gesê sy grondwetlike regte is geskend omdat ʼn groot groep verslaggewers hom glo by die Valke se kantoor ingewag het om sy foto te neem. “Ek weet nie hoe hulle geweet het nie. Ek kan net dink die Valke moes hulle ingelig het,” het hy gesê.

Die pastoor se vrou was vir die derde agtereenvolgende dag in die hof om haar man te ondersteun. Die vrou het in ʼn video mense versoek om finansiële ondersteuning aan haar man te bied vir die regsgeding teen hom.

Maroela Media het vroeër berig daar word beweer die omstrede pastoor, wat glo kerke in Port Elizabeth, Kaapstad, Johannesburg en Brittanje bestuur, het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van die kerke na ʼn huis in Umhlanga, KwaZulu-Natal, geneem waar hy hulle na bewering seksueel misbruik het.

Die hof het vroeër gehoor die pastoor se beweerde modus operandi was dat beamptes van die kerk glo arm meisies sou “werf” en onderneem dat die pastoor hul lewe sal verander. Foto’s sou van hulle geneem word en onderhoude met hulle gevoer word. As die pastoor tevrede was met hul voorkoms sou dit gereël word dat hulle Durban toe geneem word. By tye was daar 40 meisies in een kamer. Die pastoor sou een kies om na ʼn slaapkamer te gaan waar hy dan seksuele toenadering sou soek.

Intussen is vrae Vrydag gevra toe die pastoor by die hof in ʼn ongemerkte sportnutsvoertuig opgedaag het, sonder handboeie en met ʼn Bybel in die hand. Robert Netshiunda, woordvoerder van die Valke, het gesê daar is niks vreemds aan hierdie prosedure nie aangesien die pastoor deur lede van die taktiesereaksie-eenheid begelei is.

“Hy is hierheen gebring in ʼn voertuig wat aan die Valke behoort. Hy is nie geboei nie, want hy dra sy Bybel, sy horlosie en sy sonbril. Vandag is net ʼn borgtogaansoek, so hy moet sy besittings by hom hê. Indien hy borgtog toegestaan word, kan hy nie teruggaan om [sy besittings] te kry nie, so dit moet reeds by hom wees,” het Netshiunda gesê.

Die 58-jarige pastoor, wat die pa van drie kinders is, staan tereg op 22 aanklagte van seksuele aanranding en mensehandel. Hy het skuld op al die aanklagte teen hom ontken.

Die borgtogaansoek is tot 12 Mei uitgestel sodat die departement van binnelandse sake die pastoor se reisdokumente kan nagaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Robert ·

Mooi Sannie! Sy lewe is nou n mooi voorbeeld van die Bybel in praktyk!!! “Wat jy saai sal jy maai”

John ·

?.. niemand het… HUL regte… aan my verduidelik nie… ek het geweet wat ek doen is verkeerd…

AL ·

As hy moes opreg in die weë van die Here wandel, waarom wil selfmoord pleeg of sielkundige sien

snoepie ·

Wat jy saai SAL jy maai!!!
Kry vir jou.
Geen simpatie vir vals profete nie.
Dalk sal hy nou onthou; dat die Here slaap nooit.

Blommie ·

Snaaks hoe die kommentators op die nuusblad elke witmens wat aangekla word altyd verdedig en se die aanklagte teen hulle is net opgemaak. Maar as die n anderskleurige is het hulle hom lankal skuldig bevind en veroordeel, lank voor een bewys in die hof gelewer is.
Hoe meer daar gese word Afrikaners is rassiste, hoe meer bewys hulle dit korrek

Ekke ·

Blommie ek hoop jy is die enigste wit Suid Afrikaner hier in ons stukkende land wat so voel. Sou jy nog so gevoel het aa jy een van die slagoffers was. Skaam jou oor jou opinie en om WEEREENS rassisme die skuld te gee vir n baie ernstige misdaad!!!!!

Lexi ·

Blommie. Gaan lees bietjie die kommentare by die Oscar Pistorius, Henrie van Breda, Don Steenkamp ens. berigte. Het almal wat kommentaar daar gelewer het, die booswigte verdedig net omdat hulle wit is? Ek twyfel. Mense is verafsku deur bose dade, ongeag die velkleur wat die dade pleeg. Dink volgende keer 2 keer voordat jy mense so openlik van rassisme beskuldig. Dis nie ‘n mooi ding om te doen nie.

Robert ·

Blommoe, op Junior Primêre-fase leer die kinders van begripstoetse. Lees met begrip. Ek weet nie hoe oud jy is nie, maar jou begrip van wat in die land aangaan, skree ten hemele. Jy het duidelik iets gemis…

Engelbek ·

Blommie, jou veralgemening is lagwekkend. Probeer om wyer te lees en te luister en dan sal jy besef hoe verkeerd jy is.

piper ·

waarvoor is n in suid afrika elkgeval? laat hom swaarkry want hy verdien dit. hy moet geen borgtog kry nie. vind hom skuldig gee hom oor aan nigerie en verplig dit dat hy daar in hulle tronk sal sit. hulle tronke is sekerlik swakker as ons tronke. dit spaar ons geld as hy daar sit.

Maya Roon Joubert ·

Ek se oor en oor “an eye for an eye” Hoe lank het die meisies nie gebuk gegaan na seksuele mishandeling van die duiwel wat voorgedoen get hu is kind van God…. Laat hy hier aardse pyn ontvang en mag God hom geregtelik teregstel wanneer sy tyd kom!

Liza ·

Flymskerp gestel Robert. Ek deel in julle frustrasie. Die ironie is almal wat ek ken wit, swart, bruin, kan nie ‘n he’ll omgee oor kleur nie, maar soek ‘n veilige florerende land om in oud te word en ons kinders in te sien groot word. Mense wat dikwels so “moan” oor ander wat kamstig rassisties is, is dikwels die wat sef met onderliggende en onderdrukte issues sit. Enige iemand met ‘n bietjie breins sal nie omgee of die pastoor blou, pienk of pers is nie. Dit gaan oor ‘n gruwel daad van een persoon teenoor ‘n ander.

Boerseun ·

Die ouens wat so met die Bybel onder die arm loop, is die vir wie jy die versigtigste moet wees. So baie mense laat hulle bluf met ‘n Bybel. Hoekom so?

PJ ·

Ag siestog “Pastoor walglik” …my hart bloei vir jou…. vat jou goed..jou vrou…jou valsheid en gaan terug na jou eie land toe
Ons soek nie jou soort hier nie
Jy maak my naar..

Asmain ·

Ag siestog, hy is getraumatiseerd omdat hy onder n stink kombers moet slaap. Wonder hoe getraumatiseerd is sy slagoffers agv sy dade…

marous ·

Wonder hoeveel van sy gemeente lede ry spotsnutsvoertuie …met blou ligte

Ekke ·

Klink my die pastoortjie wil in n vyfster hotel aangehou word tot hy borg kry.

Catryn ·

Daar is dalk nie net 30 meisies wat hy seksueel misbruik het nie, maar meer, dus as hy borg kry, sal dit seker verdubbel tot sy verhoor begin – los hom asseblief in aanhouding. As so iemand wat met ‘n Bybel onder die arm loop jong arm kinders misbruik, dan is daar beslis moontlik meer en nie net 30 nie. Hy moet maar sit tot hy verhoor word, daar is baie soos hy wat in aanhouding bly – as dit so is, is die man ‘n gevaar vir hom , en sy vrou, dink net aan al die siektes wat oorgedra word.

Manie ·

Dit is die beste snert wat ek nog gehoor het. Hoop alle verhoorafwagtendes wat n bybel, sonbril en horlosie dra word ook nie geboei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.