Pastoor-moord: Skoonseun gevonnis

Stefan Visser Woensdag in die hof. Foto: Phillip Bruwer

Stefan Visser (29), wat skuldig bevind is aan die moord op sy skoonma, past. Elsabe van Niekerk (55), is Vrydag in die hooggeregshof in Pretoria gevonnis.

Regter Nicolene Janse van Nieuwenhuizen het Visser tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Adv. Pieter Luyt, vir die staat, het die hof Donderdag versoek om Visser tot 30 jaar tronkstraf te vonnis weens die gewelddadige aard van die moord en die feit dat hy meen Visser toon geen berou vir sy dade nie.

Leandri Visser (30), Van Niekerk se dogter, het ook Donderdag ter verswarende omstandighede getuig hoe haar ma se moord “die familie uiteengeskeur het” en tot gevolg gehad het dat sy haar fotografieonderneming moes toemaak.

Adv. Philip van Staden, Visser se regsverteenwoordiger, het die regter gevra om sy kliënt genadig te wees en het versoek dat hy tot 15 jaar tronkstraf gevonnis word.

Luyt het ná die vonnisoplegging gesê Visser sal eers oor meer as 12 jaar in aanmerking kan kom vir parool.

Van Niekerk is op 11 April verlede jaar in haar broer se werkswinkel in Gezina in die Moot-omgewing vermoor. Visser is kort ná haar moord in hegtenis geneem. Sy is dood aan 31 steekwonde, vermoedelik van ʼn “knuckle duster”-vuisystermes, en is vier keer gesny.

Leandri en Visser was besig om te skei ten tyde van die moord. Die egpaar het twee kinders. Visser het tydens sy borgaansoek beweer sy skoonouers het in hul huwelik ingemeng en hom daarvan weerhou om sy twee kinders te sien nadat hulle met die egskeiding begin het.

Hy het Woensdag in die hof erken dat hy Van Niekerk vermoor het en gesê hy was kwaad toe hy dit gedoen het. “Ek het voordat ek haar begin steek het, sowel as terwyl ek haar met die mes gesteek het, geweet en besef dat die steekwonde haar dood kan veroorsaak. Ten spyte van dié besef, het ek voortgegaan met my onregmatige optrede,” het sy verklaring gelui.

Lees alle vorige berigte oor die Moot-moord op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Vivian ·

Nog n bewys lewe beteken ook nie veel vir die gereg nie. SNMK

Gerda Erasmus ·

Dit is sy gewete waarmee hy die res van sy lewe moet saamleef! Elsabe sal NOOIT WEER gehoor word nie, immers kan Dirk, Leandri, kleinkinders en familie nou berusting vind!

Tssk Tssk ·

Aai… en as hy nou ‘n celeb was het hy net 5jaar gekry… Want dis hoe geregtig die land is.

E.K. - ek sê net! ·

Bedaar nou. In ander berigte het van die familiehom toegewens dat hy sy lewe verander en vergifnis kry by WIE dit saakmaak. So los nou maar en mag hy wel vergifnis vind asook vrede. En voor jul my aanval, ek sê NIE moord is reg of was geregverdig maar laat alles nou met rus, die gereg het sy beloop geneem.

Tanya ·

Wat ‘n skande. Dit is waarom daar so maklik gemoor word is ons land want dit is die “geringe” straf wat hulle aanpor om net weer te moor.

Dirk ·

Wat skokkend is, is die feit dat vonnisse so onreëlmatig is vir moord. Die ou erken hy is skuldig en kry 25 jaar. Die bende lid wat in PE ‘n polisie man (‘n pa van 3) sommer net dood geskiet het, gelieg het vir die hof…. kry net 18 jaar. Dis belaglik!!!

Rina Kotze ·

Ten minste het hy nie kat en muis gespeel nie en so die saak uitgerek nie!

Hy het erken dit was hy en klaar.

Sterkte vir die familie wat agterbly.

AL ·

En die moordenaar wie die wit polisieman doodgeskiet het, sy vrou n weduwee gemaak het en sy 2 kinders vaderloos gelaat het, kry slegs 18jaar!
Wat maak daardie koelbloedige moordenaar beter deur 7jr minder te sit as in bogenoemde geval?!

Abbey-roseBotes ·

Niks maak hom better nie. Absolute niks. Maar Al dit hang van die regter af en hoe goed die ou se prokereur sy saak gestel het. Die minimum volgens die wet is 15 jaar vir die eerste offence daarna 20 vir die tweede en 25+ (wat beskou word as lewenslank in S.A.) vir n derde. Maar die regter bepaal die vonnis net met die feite wat voor die hof gele word deur beide die prokereur en staatsaanklaer. Dan bepaal sy/hy die vonnis sonder emosie net met feite.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.