Pastoor ná ongeluk: ‘Die Here het vir my lewe geveg’

Cyzelle Fincham het op 14 Junie vir haar 40ste verjaarsdag ‘n 11 km staptog aangepak (Foto: Verskaf)

“Die Here en sy engele het vir my lewe geveg. Mense van oral het vir my gebid en soos hulle gebid het, het ek gevoel hoe die mag van die engele sterker word.”

Só verklaar Cyzelle Fincham (40), ’n pastoor van Mbombela (Nelspruit), haar wonderbaarlike herstel nadat sy in September verlede jaar in ’n ongeluk in ’n veldvoertuig betrokke was.

Die dokters het aanvanklik gedink sy gaan dit nie maak nie, maar sy het “bonatuurlik” haar bewussyn herwin en was dae later reeds op die been.

Nou, byna ’n jaar later, pak dié ystervrou reeds lang staptogte aan en dokters beskryf haar vinnige herstel as ’n wonderwerk.

“Ek glo die Here het my gered sodat ek kan leef om sy boodskap te verkondig.”

Die fratsongeluk het op 11 September by die Vygeboomdam naby Mbombela afgespeel. Fincham, haar man, Kelvin, en hul kinders, Joshua (14), Kaycee (13) en Kamea (10), het saam met vriende die naweek by die dam deurgebring.

“Ons het die dag by die dam uitgespan toe die kinders ’n baba-eendjie na ons gebring het. Een van ons vriende het gesê hy weet waar die nes is en ek het saam met hom in ’n Polaris-veldvoertuig geklim om die eendjie terug te vat na sy nes toe,” vertel Fincham.

Op pad terug het die voertuig om ’n skerp draai gerol en die voertuig het bo-op Fincham te lande gekom.

Fincham moes herkonstruktiewe chirurgie aan haar gesig ondergaan (Foto: Verskaf)

“Ek was vir ’n oomblik nog by my bewussyn en het probeer sin maak van wat gebeur het. Die volgende oomblik was alles om my donker.”

Fincham is na die Mediclinic Nelspruit geneem waar sy ongeveer twee dae lank in die intensiewe sorgeenheid (ICU) gelê het. Sy is drie dae later per helikopter na die Life Eugène Marais-hospitaal in Pretoria se ICU oorgeplaas.

Sy het twee beenbreuke aan die linkerkant van haar gesig opgedoen. Haar pelvis het op drie verskillende plekke gebreek en sy het ses ribbes gebreek. Van haar rug- en nekwerwels was gekraak en die senuwee in haar linkerbeen het ook seergekry. Die dokters was in ’n stadium bekommerd dat sy alle funksie in dié been verloor het.

Fincham is aan ’n ventilator gekoppel en was ongeveer drie weke lank onder verdowing.

“Wat ek in daardie drie weke onder sedasie beleef het, het meer werklik gevoel as die ongeluk self. Dit het gevoel asof ek in my eie fliek die hoofkarakter speel. Ek het ervaar hoe ek teen die vyand vir my lewe moes veg. Ek kon ook ervaar hoe die engele my help om te veg en hoe mense vir my bid. Hoe meer hulle gebid het, hoe meer oorheersend het die krag van die engele geraak. Ek het nie geweet dat mense wyd en syd in die werklikheid besig was om vir my te bid nie.

“Die dokters het ná die tyd vir my vertel dat ek ook vir hulle gepreek het en God se Woord gespreek het terwyl ek onder sedasie was.”

Die aand voordat Fincham uit die verdowing wakker geword het, het haar geliefdes ’n lofprysing- en gebedsaand vir haar gehou.

Drie dae nadat Fincham uit sedasie wakker geword het, het sy geloop (Foto: Verskaf)

“Ek het die volgende dag vanself wakker geword. Die dokters beskryf dit as ‘bonatuurlik’.”

Drie dae nadat sy uit die verdowing wakker geword het, het Fincham opgestaan en badkamer toe geloop. Sy is sowat vyf dae later uit die hospitaal ontslaan.

“Die dokters was verstom oor my vinnige herstel en sê ek is ’n lopende wonderwerk.”

Fincham was sewe keer in die teater en het verskeie operasies ondergaan. Die dokters het onder meer twee groot skroewe saam met 14 kleiner skroewe in haar pelvis aangebring. Sy moes ook rekonstruktiewe chirurgie aan haar gesig ondergaan.

Sy het onlangs eers klaargemaak met fisioterapie.

Sy sê sy ervaar nie erge pyn nie en gaan voort met haar lewe soos normaal. Op 14 Junie het sy selfs vir haar 40ste verjaardag ’n 11 km-staptog saam met haar vriende aangepak.

“Dit was veronderstel om sewe kilometer te wees, maar ons het verdwaal en toe word dit 11 km. Ek was moeg aan die einde, maar bly ek kon dit regkry.”

Die Fincham-gesin (Foto: Verskaf)

Fincham het intussen ook weer agter die preekstoel as pastoor by die Grace Family-bediening in Mbombela ingeskuif. Sy en haar man het dié bediening so sewe en ’n half jaar gelede begin.

“Ek het uit die ongeluk geleer om dankbaar te wees vir die klein goedjies – dié goedjies wat ons as só vanselfsprekend in ons lewens aanvaar. Dit kan in ’n oogwink van ’n mens af weggeruk word.”

Fincham sê hul gesin het ook nader aan mekaar in hierdie moeilike tyd gegroei.

“Ons waardeer mekaar nou meer, want ons besef dat ons almal net vir mekaar geleen is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

LIEZL ·

Fantasties, AMEN! Alle eer aan Hom wat lewe in ons geblaas het. Wat ‘n pragtige gesin. Seënwense vir julle pad vorentoe

Boomspan ·

Wow. God kan dit doen. Hallelujah! Dankie vir die artikel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.