Pastoor op lughawe vasgetrek vir mensehandel

Vroue buite die Valke se kantoor. Foto: ANA.

ʼn Nigeriese pastoor wat daarvan beskuldig word dat hy 30 meisies seksueel misbruik het, het Donderdag wegkruipertjie met die polisie gespeel ná hy by die Port Elizabeth-lughawe geland het waar hy deur die Valke in hegtenis geneem sou word.

Hy is in hegtenis geneem op aanklagte van mensehandel. Dié omstrede pastoor bestuur glo kerke in Port Elizabeth, Kaapstad, Johannesburg en die Verenigde Koninkryk.

Volgens ʼn ooggetuie het die polisie aanvanklik deur die aankomshekke gehardloop, maar kon hom nie opspoor nie. “Hy is toe in een van die badkamers gekry en in boeie daar uitgelei deur polisiebeamptes,” het die ooggetuie gesê.

Die pastoor sal verteenwoordig word deur Alwyn Griebenow, ʼn bekende prokureur in Port Elizabeth.

Lt.kol. Robert Netshiunda, woordvoerder van die Valke, het bevestig die polisie het die pastoor daar gaan soek ná hul aanvanklike pogings misluk het. Hy sou homself glo oorgegee het aan die Valke, maar het nie.

“Ons het daarvan te hore gekom dat sy vlug vertraag is, maar kon dit nie net so aanvaar nie en het self gaan kyk. Sy vlug was wel betyds,” het Netshiunda gesê.

“Die man is inderdaad in die toilette gevind. Hy word tans net van mensehandel aangekla, maar ons kan nog klagtes byvoeg.”

ʼn Groep vroue het buite die Valke se kantoor bymekaargekom ter ondersteuning van die 30 vroue wat seksueel misbruik is. Pamella Mabini, woordvoerder vir die groep, het gesê die gevalle van molestering en verkragting het al in 2002 ʼn aanvang geneem.

“Van die meisies is bang om vorendag te kom, want hulle word gedreig deur ander lede van daardie kerk,” het Mabini gesê.

Hy sal na verwagting Vrydag in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Dink ·

Ja en nou het een of ander “Dame” gese pastore en dominees moet almal registereer soos dokters en as hulle iets verkeerd doen word hulle lisensies weg geneem. Mmm, so julle weet wat volg ne? Die Ateiste sit lekker in die hoekie en wag vir die eerste dominee om weer oor homoseksualiteit te preek en dan gaan sy lisensie weg gevat word en so gaan dominees beheer word oor wat hulle mag en nie mag se nie. Sosiale Marxism.

AL ·

Valse profeet met ñ sieklike aptyt. Ongelukkig is hier baie fly by nighters

Skim ·

Daar is VIER of VYF vroue buite die hof as ek reg getel het, maar by die doodskis manne was ‘n skare wat betoog het met wit babapoppe en plakkate en het anti white slogans geskreeu en mense met die dood gedreig, tog vreemd hoe sekere oortredings as dit deur ‘n anderskleurige gepleeg word net ‘n handjievol vroue aan ‘n optog laat deelneem maar honderde toetree tot ‘n saak waar ‘n wit ouens ‘n swart ou in ‘n doodskis ingedwing het .. sonder ‘n merkie op hom .. en ook agterna agtergekom het hy was ‘n koperkabeldief … maar ja .. Ek sal dit dan ook maar as ‘gewone misdaad’ afmaak … hoe se hulle altyd . laat die reg maar sy verloop neem.

Etta van der Merwe ·

Wat soek hy in die eerste plek in SA? Ons het oorgenoeg van ons eie predikers en probleme. Op n manier sal hierdie walglike dade van hom ook op rassisme neerkom, hoe vergesog dit nou mag klink.

Donovan ·

Die Woord se daar is n spesiale plekkie vir valse leeraars in die hel gemaak…

Abbey ·

N man of vrou van God kan nie agter n amp weg kruip nie. Die woord van God leer ons sekere waardes en standaarde waarby ons moet leef en ons lewe op moet bou.
Laat hierdie man tereg staan op die aanklagtes en bid dan dat die Here die volle waarheid ontbloot. Dis al hoe die hele sak patats oop gekrap gaan word.

Theresa ·

Daar is NIKS wat sy prokureur kan sê as verdediging vir hom nie. Sies!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.