Pastoor se aanrandingsaak word dalk uitgegooi

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Pastoor van Mpumalanga wat glo ʼn 79-jarige vrou só hard geslaan het dat sy twee tande verloor het, kan moontlik vrygelaat word indien die staat nie sy sake in orde kry nie.

Die pastoor, Bongani Nkuna, het Vrydag in die Tonga-landdroshof verskyn op aanklag van aanranding, het ʼn Sapa-korrespondent berig. Hy en die vrou het glo oor ʼn verdwaalde sokkerbal gestry.

Senior landdros Sam Nkuna wou by die staatsaanklaer, Vicky Nkuna, weet waarom die saak só lank sloer. Die pastoor is al op 14 Augustus 2013 in hegtenis geneem in verband met die aanranding van Ritah Khumalo (79). Hy staan tereg op aanklag van aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig.

“Ek het eers nou die dossier ontvang,” het die staatsaanklaer aan die landdros gesê. “Ek kan nie verduidelik waarom die dossier verdwyn het nie.”

Die beskuldigde, die staatsaanklaer en die landdros het almal dieselfde van, maar is nie verwant nie.

Landdros Nkuna het gesê die dossier was vir ʼn geruime tyd vermis en die saak het baie getuies wat gereeld tevergeefs in die hof moes verskyn. Hy het gesê dit is ʼn vermorsing van staatsgeld.

Die beskuldigde is op ʼn waarskuwing vrygelaat. Hy moet weer op 8 Desember in die hof verskyn. Landdros Nkuna het die staat gewaarsku dat sy saak volgende keer gereed moet wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.