Pastoor sit lank ná verkragting van kinders

Lucky Mfanivele Magagula (Foto verskaf deur die NVG)

Pastoor Lucky Mfanivele Magagula (36) is in die hooggeregshofsitting in die Benoni-landdroshof twee lewenslange vonnisse opgelê op aanklag van verkragting, dat hy kinders aan pornografie blootgestel het, dat hy homself aan kinders ontbloot en dat hy ses minderjarige kinders, tussen 3 en 9 jaar oud, seksueel voorberei het.

Die regter het beslis dat sy naam op die nasionale register vir seksoortreders bygevoeg moet word, het Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, in ʼn verklaring gesê. Magagula is ook onbevoeg verklaar om ʼn vuurwapen te besit.

“Regter Jay Monyemangeni het Magagula op 5 Augustus skuldig bevind op drie aanklagte van verkragting, vyf aanklagte dat hy kinders aan pornografie blootgestel het, ses aanklagte van seksuele aanranding, vier aanklagte dat hy homself aan kinders ontbloot het, en dat hy kinders seksueel voorberei het.”

Magagula is ʼn pastoor van die Itshe Lengumbi-kerk in Barcelona, ʼn klein gemeenskap naby Benoni waar sy slagoffers woon. Die slagoffers was onderskeidelik 3, 4, 6, 8 en 9 jaar oud.

“Die driejarige het langs Magagula gewoon toe hy haar in Februarie 2021 verkrag het. Sy het na sy huis toe gegaan om met ʼn familielid te speel, ook ʼn familielid van Magagula. Ná die voorval het hy tydens ʼn familievergadering skuld beken op die verkragting.”

Hy het die agt- en negejarige minderjariges verkrag en hulle tussen 2020 en 2021 saam met drie ander seksueel voorberei toe hulle sy huis vir kooroefening en Bybelstudie besoek het.

“Die saak is by die polisie aangemeld ná ʼn boetie van twee van die slagoffers gesien het hoe sy twee sussies speel en hulle klere uittrek. Die boetie het sy ouma vertel wat hy gesien het. Toe die ouma navraag gedoen het by die vierjarige, het sy gesê dit is bloot wat die pastoor met hulle doen.”

Die ouma het die ouers van die kinders daarvan vertel en hulle het Magagula aangekeer. Hulle het hom na ʼn polisiestasie geneem en hy is op 11 Februarie 2021 in hegtenis geneem. Hy was sedertdien in aanhouding nadat die staat suksesvol sy aansoek om borgtog teengestaan het.

“Hy het skuld ontken op die aanklagte teen hom.”

Adv. Juliet Makgwatha het ter verswaring van vonnisoplegging aan die hof gesê Magagula is ʼn pastoor in die gemeenskap en die kinders het hom vertrou. Hy was in ʼn vertrouensverhouding en het die kerk oopgemaak om die gemeenskap te help. Maar hy het dié vertrouensverhouding verbreek en die kinders op ʼn gruwelike manier geskend. Sy het die hof versoek om ʼn vonnis op te lê wat ʼn sterk boodskap sal stuur.

“Regter Monyemangeni het in sy uitspraak met die staat saamgestem en gesê die kinders is van hul kinderjare ontneem en Magagula het hulle blootgestel aan iets wat ʼn impak sal hê op die res van hul lewens.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.