Pastoor sterf in motorfietsongeluk met bus

Past. Ben Stassen. Foto: Facebook

Past. Ben Stassen. Foto: Facebook

Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag nadat Ben Stassen (58), ʼn pastoor van Pretoria, Woensdag op sy motorfierts in ʼn ongeluk met ʼn bus dood is.

Volgens ʼn ooggetuie het ʼn bus, vermoedelik met EFF-ondersteuners, wat op pad was na massaprotesoptredes in Pretoria se middestad, omstreeks 07:00 glo ʼn rooi verkeerslig by die kruising van Pretoria- en Jamesstraat in Silverton verontagsaam en teen Stassen se motorfiets gebots.

Stassen, ʼn pa van twee kinders en inwoner van Murrayfield in die ooste van Pretoria, is op die toneel dood verklaar.

Hy was verbonde aan die Solidariteit Helpende Hand-motorfietsklub, vir wie hy liefdadigheidswerk en bediening gedoen het. Hy was ook ‘n lid van die Bomb Shelter-kerk vir motorfietsryers, vanwaar hy uitgegaan het om by kinderhuise en ouetehuise te preek.

Sr.past. Cobus Siebrits, stigter van die Bomb Shelter-kerk, het Donderdag aan Maroela Media gesê hy het die voorreg gehad om die afgelope drie en ʼn half jaar saam met Stassen en die Solidariteit Helpende Hand-motorfietsklub te werk.

“Ben ʼn groot hart gehad. Hy het gereeld ouetehuise en kinderhuise saam met sy motorfietsklub besoek, veral in die westelike voorstede van Pretoria, en daar woordbediening gedoen. Hy was baie nederig, saggeaard en almal wat met hom in aanraking gekom het, het geliefd gevoel en besef hulle is spesiaal vir God,” het Siebrits gesê.

Buiten sy liefde vir die Here, liefdadigheidswerk, bediening en motorfietsry, was hy ook lief vir reis en die natuur.

Kapt. Jan Sepato, woordvoerder van die Silverton-polisie, het gesê ʼn saak van strafbare manslag word ondersoek. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. “Die polisie is besig om al die verklarings van ooggetuies af te neem, waarna die dossier na die staatsaanklaer gestuur sal word, wat oor verdere vervolging sal beslis,” het hy gesê.

ʼn Gedenkdiens word Vrydag om 10:00 by die NG gemeente Skuilkrans op die hoek van Jan Alberts- en Cussionialaan, in Val de Grace in die ooste van Pretoria, gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Hartseer verby. En nog meer SO onnodig. Selfs MET getuies nie n arrestasie nie? Het die bus weggery? In aggenome dat iemand dood is…en dit n ongelukstoneel is…moes die busdrywer tog stop en wag vir die.polisie?

Cherokee ·

Waar lees jy dat die bus weggery het? Dit staan nêrens geskryf nie.

Francois ·

Rus sag Ben. Ek was bevoorreg om een HH Bike trip saam jou mee te maak en kan getuig oor jou naaste liefde. Jou plek sal gemis word.
Hoop die wat geen ag wil slaan op die pad reels ry aan die pen.
Aan almal wat hier lees…..THINK BIKE…

Johann ·

Cherokee; uit respek vir die feit dat iemand dood is…gaan ek aanneem jy kan nie n ? raaklees nie? Ek VRA…dis bitter vreemd dat die bus bestuurder nie daar en dan in hegtenis geneem is nie. Mag geregtigheid seevier.

Daan ·

Om ‘n kind van God te verloor is ‘n groot slag! My innige meegevoel.

Die busdrywer verontagsaam ‘n rooi verkeerslig, ‘n onskuldige man sterf en niemand is nog in hegtenis geneem nie en daar moet nog eers besluit word oor verdere vervolging??

Onmiddelike in hegtenisname sou baie meer toepaslik gewees het. Laat die drywer dan in die tjoekie bly totdat daar uiteindelik besluit is oor verdere vervolging! Nou moet die naasbestaandes deur die trauma gaan en wag totdat daar hopelik eendag iets gedoen gaan word aan die saak. Baie hartseer!

Politiek ·

Wie ookal op die toneel die inhegtenisname sou/wou doen was, glo ek, by verre in die minderheid teenoor die 50+ in die bus waar daar dus GROOT probleme sou ontstaan. Tog op grond van ooggetuies se waarneming kon dit later wel gedoen gewees het. Sou pigmentasie dalk ‘n rol speel? Ek reken so want ek dink so maar mag nie so sê en dis wat ek dink en nie durf sê.
Sterkte aan fam. en vriende.

Hartseer ·

Ek het daar verby gery. Toe ek die liggaam daar sien lê, toegegooi, en net die arm sien uitsteek, het ek amper in trane uitgebars. Daar het so baie vrae deur my gegaan. ( Wie is sy familie, Hoe seer is dit vir hulle, om iemand op so n manier te verloor). Dit het my so emisioneel geraak. Ek was siek vir n hele 2 ure. Ek moes “Tele councelling” gekry, wat my baie gehelp het. Dankie vir die berig, Maroela media. My vrae is beantwoord. RIP Ben. “Your legacy will still live in many hearts” Sterkte aan die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.