Pastoor, sy vrou en huurmoordenaar gevonnis na wrede moord

Melisizwe Monqo en sy vrou Sphesihle Pamba (Foto: Facebook)

’n Pastoor, sy vrou en ’n huurmoordenaar wat ’n jong vrou vermoor het om haar lewensversekeringspolisse se uitbetalings te kry, is swaar gestraf in die Wes-Kaapse hooggeregshof.

Melisizwe Monqo (32), wat as pastoor by God’s Work International Ministries gewerk het, is tot lewenslange en ’n bykomende 252 jaar tronkstraf gevonnis. Sy vrou, Sphesihle Pamba (26), is tot effektief 20 jaar tronkstraf gevonnis. Phumlani Qhusheka (31), die huurmoordenaar, is tot lewenslange en ’n bykomende 63 jaar tronkstraf gevonnis.

Hlompo Koloi (25) se liggaam is op 5 Julie 2018 op ’n grondpad naby Voëlklip deur Francois Gerber gevind toe hy op pad was om by Heroldsbaai te gaan visvang. Hy het die polisie ontbied.

Volgens Eric Ntabazalila, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Monqo en sy vrou ’n bedrogskema begin waar hulle lewensversekeringspolisse namens lidmate, sonder hul wete, uitgeneem en dan hul moorde beplan het met die doel om voordeel te trek uit die uitbetaling van die polisse. Lewensversekeringspolisse is namens Nomfundiso Booi, Anelisa Xhotyeni, Bulelwa Sihawu en Koloi uitgeneem. Hierdie niksvermoedende slagoffers is by verskeie lewensversekeringsmaatskappye verseker en die beskuldigdes sou meer as R26 miljoen gekry het by die uitbetaling daarvan.

Hlompo Koloi (Foto: Facebook)

Die polisie het tydens sy ondersoek vasgestel dat Koloi werkloos was en gehoor het dat sy ’n werksonderhoud by die George-lughawe gekry het. Op die betrokke dag het sy vriende gebel om geld te leen vir ’n taxi om die onderhoud by te woon. Haar kêrel en haar broer het saam met haar gestap tot by die Thembalethu-brug in George. Sy het hier in ’n silwerkleurige motor geklim wat deur Monqo bestuur is met Qhusheka wat agter gesit het. ’n Paar uur later is haar liggaam gevind. Sy het verskeie steekwonde opgedoen en is keelaf gesny.

Volgens Ntabazalila is Monqo op 26 aanklagte skuldig bevind, waaronder die moord op Koloi, roof met verswarende omstandighede, aanranding met die doel om ernstig te beseer, huisbraak met die opset om moord te pleeg, die onwettige besit van ’n vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie en op 13 aanklagte van bedrog.

Pamba is skuldig bevind op 24 aanklagte wat soortgelyk is aan dié waarop haar man tereggestaan het.

Regter Vincent Saldanha het met uitspraak gesê hy het van die voorgeskrewe minimum vonnisse vir Pamba afgewyk aangesien sy ook ’n slagoffer was wat deur haar man mishandel is en gedwing is om aan die misdade deel te neem.

Regter Saldanha het ook opgemerk dat Pamba berou getoon het en Koloi se familie om vergifnis gevra het. Sy het ook nie aan die gru-moord op Koloi deelgeneem nie.

Qhusheka is ook op verskeie aanklagte skuldig bevind en hy en Monqo het nooit berou vir hul dade getoon nie. Koloi se selfoon is in Qhusheka se besit gevind sowel as haar DNS aan sy bebloede klere, hoewel hy tot aan die einde van die verhoor voortgegaan het om sy onskuld aan te voer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Shakespeare ·

Satan in pastoor gewaad. Baie van hulle deesdae in die New Sout Êfrica.

Perdeby ·

Moo so!! So daar is nou geen mooi karre of huise vir hulle nie.

Sarel ·

Regstelling: Na die Definisie van Pastoor was hierdie persoon nie ‘n Pastoor nie en nie die Amp waardig nie.
Kwaai vonnis…wanneer kwalifiseer hulle vir Parool

Mariaan ·

Ag sies man..waar kom die mensdom aan hierdie gruweldade…skokkend! Nou moet ons vir die tronkkoste betaal…doodstraf sou meer gepas gewees het..

Mariana ·

Gee hom voor as pastoor, hy is ‘n moordenaar en skelm. Hoop hulle geniet dit in die tronk. Hoop hulle sien nooit weer daglig nie. Te veel mense doen hulself as pastore of een of ander kerklike voor en dan jaag hulle so aan. Dat ‘n mens se lewe so min werd is in die land. God slaap nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.