‘Pastoor’ vas vir huisroof

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

’n Man (33) wat blyk ’n pastoor by ’n kerk in die omgewing van Bosbokrand in Mpumalanga te wees, sal na verwagting Woensdag in die plaaslike landdroshof verskyn nadat hy Dinsdag in hegtenis geneem is in verband met ’n huisroof vroeër die dag.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê ’n voorlopige ondersoek dui daarop dat ’n vrou (48) en haar 13-jarige kind van College View Dinsdagoggend gereedgemaak het om onderskeidelik te gaan werk en skool toe te gaan, toe hulle deur ’n gewapende man met ’n klapmus oor sy gesig in hul huis oorval is.

Die man het ma en kind met kabelbinders vasgebind waarna hy met verskeie huishoudelike items waaronder ’n televisie en klanksisteem in die slagoffers se Toyota Avanza op die vlug geslaan het.

Die polisie is ná die voorval na die huis ontbied waarna polisiebeamptes met behulp van ’n nasporingstelsel in die slagoffers se motor die gesteelde items in ’n huis in die omgewing van Violetbank opgespoor het.

Daar was in dié stadium egter geen teken van die verdagte óf die motor nie.

“Die polisiebeamptes het verder inligting bekom dat die items na bewering in die huis agtergelaat is deur ’n man wat bekend is as ’n pastoor in die omgewing, asook dat daar gesien is hoe hy met ’n Toyota Avanza rondry.”

Polisiebeamptes het dié voertuig later verlate sonder ’n motorsleutel in die omgewing van Acornhoek opgespoor waarna hulle na die verdagte se huis is. Die verdagte is daar in die besit van die motor se sleutel aangetref.

“Die polisie het sy huis deursoek en ook op ’n speelgoedgeweer afgekom wat hulle vermoed vroeër deur die verdagte gebruik is om die huisroof te pleeg.”

Die vermoedelike pastoor staan nou tereg op aanklag van huisroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Genis ·

My aarde Serfaas: ek het nog net gehoor van false profete… Skaamteloos is dit nie?

J ·

Vertrou niemand!

Wees dubbel wantrouig teenoor daardie kriminele wat die ‘fatsoenlikheid’ van die kerk misbruik om jou te vang! … die pastoor titel, die vroom praatjies, die kerk uniform …. alles net kamoeflering van ‘n slinkse misdadiger!

Wolf in skaapsklere!

Hulle is die GEVAARLIKSTE misdadigers!

Adeline ·

Moenie dink die “kerk” is vol geredde mense vandag met ‘n eerlike leefwyse nie – as die ‘kerk’ van vandag nie eers die volle Woord van die Skepper van die Heelal kan respekteer en uitleef nie en toelaat dat dit gruwelik oortree word -is daar duidelik van die grootste goddelooslik misdadigers in die kerk en op die kansel. Het die kerk 40 jaar gelede totsiens gesê juis oor die leuens vanaf die kansel. Nie almal wat kerk toe gaan is kinders van die Skepper van hemel en aarde nie -verseker nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.