Pastoor vir verkragting, moorde gevonnis

Die slagoffer Aniesa Bardien se familie buite die hof gedurende ‘n vorige hofverskyning. (Foto: ANA)

Keith Bird, die voormalige pastoor van die Kaapse Vlakte wat skuldig bevind is op twee aanklagte van moord, sewe van verkragting, vier van crimen injuria en diefstal is Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof gevonnis.

Bird is vanoggend 50 jaar effektiewe tronkstraf opgelê.

Bird het in ʼn pleit- en vonnisooreenkoms erken dat hy sy eks-verloofde, Aniesa Bardien (36), op 8 Januarie 2013 vermoor het nadat sy hul verlowing verbreek het. Haar ontbinde lyf is dae ná haar verdwyning gevind.

Bird het Bardien in die bosse naby Campweg in Strandfontein gelok deur Lizelle Jantjies te oorreed om haar daarheen te roep. Hy het haar gewurg totdat sy bewusteloos was. Hy het daarna haar kop verbrysel deur haar verskeie kere met ʼn klip te slaan.

Die tweede moordklag hou verband met die verkragting en verwurging van die 20-jarige Sharvonne Sharnice Koense op 18 Mei 2013. Bird het haar by ʼn partytjie ontmoet waarna hy haar oorreed het om saam met hom te stap. Hy het haar in die bosse by Tafelsig, Mitchells Plein, ingelok waarna hy haar vermoor het. Koense se halfnaakte liggaam is later deur ʼn verbyganger in dié bosse ontdek.

“Ek erken dat dit my bedoeling was om haar [Koense] dood te maak,” het Bird gesê.

Die aanklagte van crimen injuria hou verband met beeldmateriaal van seksuele aard wat hy aan verskeie van sy kollegas gewys het. Die staat voer aan dat hy deur dié beeldmateriaal aan sy kollegas te wys die waardigheid van sy slagoffer aangetas is.

Die staat voer verder aan Bird het sosiale media gebruik om vroue te lok. In een geval het hy in Mei 2014 gereël om een ​​van sy slagoffers via Facebook te ontmoet onder die voorwendsel van ʼn geleentheid vir modelwerk. Hy het na bewering ʼn mes en ʼn elektriese skoktoestel te voorskyn gebring en haar seksueel aangerand.

Hy het ook die sosiale netwerk Mxit in Januarie 2014 gebruik om een ​​van sy slagoffers te ontmoet. Hy het haar by haar huis ontmoet waarna hy haar verkrag en gedreig het om haar met die skoktoestel te skok as sy nie wou saamwerk nie. Hy het ook haar BlackBerry-selfoon gesteel.

Bird het van Januarie tot Mei twee keer per week na dié vrou huis teruggekeer om haar en haar gesin te dreig indien sy nie aan sy seksuele eise voldoen het nie.

Die voormalige pastoor is onderskeidelik 25 jaar tronkstraf opgelê vir elke aanklag van moord asook altesaam 108 jaar vir die rits ander aanklagte teen hom. Een van die moordvonnisse sal samelopend saam met die vonnisse vir verkragting, crimen injuria en diefstal uitgedien word. Dit kom dus neer op effektief 50 jaar agter tralies.

Die verswarende faktore in Bird se pleitooreenkoms sluit in dat daar verskeie aanklagte van verkragting teen hom aanhangig gemaak is asook dat twee mense gesterf het. Hy het ook vir byna drie jaar lank met sy wandade weggekom voordat hy eindelik vasgetrek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Geregtigheid ·

Geregtigheid het geseevier. Eindelik verdien hy geen opsie van parool na 50 jaar nie.

? leser ·

kom ons neem aan dat hy nou 35 jaar jonk is, plus 50 jaar, 85 vir uitkom, hy gaan dit nooit maak nie

Razor ·

Moet nie die titel Pastor voor die emors se naam sit nie Maroela, want hy is nie een nie maak julle stelling reg asb.

Willie ·

Hy word na die helfte van sy vonnis, 25 jaar, oorweeg vir parool

Michael ·

Mens sal dink as iemand 50 jaar tronk straf kry dit n afskrik middel vir skurke sal wees maar glo my hulle steur hulle net nie daar aan nie. Moor maar voort.

SjN ·

Die pastoor se beradering en bedrading het deur mekaar geraak.

Ekke Dink ·

Seker nie krag vie TV kyk gehad nie?
Van watter kerk is/was hy n pastoor.
Hy laat my aan die Bybel se Dawid dink.

Ma ·

Ekke Dink ek dink jy moet asb NIE dink nie. Dawid in di Bybel kan gladnie met hierdie skurk vergelyk word nie!

Ra Amon Khan ·

.
.
Snaaks dat party mense altyd hul posisie uitbuit……soos die werkers in n kerk-kantoor wat die kolleksiebord-geldjies net nie kan uitlos nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.