Pastoor, visserman red mans uit see

NSRI op die toneel waar twee mans amper verdink het. (Foto: Verskaf)

’n Pastoor en ʼn visserman het die naweek hul lyf lewensredder gehou toe hulle twee swemmers uit die see by Wildernis aan die Tuinroete gered het.

Garth Dominy, bevelvoerder van die plaaslike Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê sy span is Sondag teen 17:20 na Leentjiesklip ontbied waar twee mans deur seestrome meegesleur is.

Die span het by hul aankoms op die toneel vir pastoor Peter Veysie op ’n sandbank sowat 30 m die see in aangetref, nadat hy vir Justin April (23) van Pacaltsdorp na die strand gebring het.

Veysie woon in die omgewing en was op pad om die tweede drenkeling te hulp te snel.

Volgens Dominy is April op die strand behandel, waarna hy in ’n ernstige, dog stabiele toestand na die hospitaal gehaas is.

NSRI Wildernis (Foto: NSRI)

Luidens die verklaring beskryf die pastoor homself as ’n goeie swemmer. Toe hy die twee mans in die see gewaar, duidelik in die moeilikheid, was hy in twee geskeur of hy strandlangs moes hardloop en eers ’n reddingsboei gaan haal, of dadelik die see in hardloop en die mans sonder die reddingsboei probeer red. “Hy het gevoel dit sou te laat wees as hy eers die boei te gaan haal en het dadelik die see ingehardloop,” sê Dominy.

Veysie sê dat hy eerste tot by April geswem het en hom tot op die sandbank gehelp het, waarvandaan hy met hom strand toe geswem het. Hy het April in die sorg van sy vrou gelaat en is dadelik weer die see in om Quinton Jacobs (26), ook van Pacaltsdorp, te red.

Dit is toe dat die NSRI op die toneel aangekom het en Veysie op die sandbank aangetref het.

Volgens Dominy het die seestrome in dié stadium vir Jacobs in die rigting van Kaaimans-riviermond meegesleur. Twee vissermanne, Ettiene en Cecil Klue van George, het Jacobs sowat 80 m van hulle af op die rotse gewaar.

Ettiene (45) het inderhaas die hoek van sy visstok teen die skerp punt van ’n rots afgesny en die vislyn met ’n sinker in Jacobs se rigting gegooi. Die sinker het oor Jacobs se kop getrek en hy kon daarin slaag om aan die vislyn vas te hou terwyl Ettiene hom inkatrol.

Jacobs is met behulp van Ettiene en nog ’n vriend tot op die rotse gehelp. Jacobs was gedaan en het enkele skrape en snye in die voorval opgedoen.

Die twee slagoffers is bure in Pacaltsdorp en het Maandag bevestig dit gaan intussen heelwat beter met hulle albei. Hulle het hul dankbaarheid teenoor die pastoor en die visserman uitgespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kokkie ·

Absolute hedendaagse heldedade van pastoor, ook vinnig denkende hengelaar. Welgedaan. Julle verdien medaljes vir dapperheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.