Pastoorsgesin dood aangetref in Witbank-huis; vierjarige oorleef

crime scene tapeDie polisie in eMalahleni (Witbank), Mpumalanga sê dit is ʼn raaisel hoe ʼn vierjarige seuntjie dae lank oorleef het nadat die res van sy gesin glo weens koolstofmonoksiedvergiftiging dood is.

Sers. David Ratau, ʼn polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê Seth Offei sr. (38), sy vrou Rose (30) en die egpaar se driejarige dogter, Roseth, is op 16 Julie dood aangetref op die grond in hul huis se hoofslaapkamer.

ʼn Vriend van die gesin het gaan ondersoek ingestel nadat hy die paartjie sedert 13 Julie nie in die hande kon kry nie. Hy het drie dae lank aan die deur geklop, en hulle probeer bel, maar kon nie antwoord kry nie.

Hy het uiteindelik deur een van die vensters gekyk en die gesin op die vloer sien lê. Hy het die polisie ontbied. Die drie se liggame was reeds in die vroeë stadium van ontbinding. Seth jr. het ongedeerd in die huis rondgedwaal.

“Seth sr., ʼn wiskundeonderwyser en pastoor, het by sy dogtertjie se liggaam gekniel toe hy ook dood is. Die ma het langs hulle op die grond gelê,” het Ratau gesê.

Die polisie vermoed die gesin is die aand van 12 Julie of in die vroeë oggendure op 13 Julie dood.

“Dit is nie duidelik hoe die seuntjie oorleef het nie, maar daar was kos en vrugte in die huis. Hy het van die koue gebewe toe ons hom gekry het,” het Ratau gesê.

Die seun is na ʼn maatskaplike werker geneem. Bloedmonsters is van die oorledenes geneem om die oorsaak van hul dood te bevestig. Die polisie vermoed dat ʼn verwarmer die koolstofmonoksiedvergiftiging veroorsaak het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.