Patel wil loteryraad pos

Die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel. (Argieffoto: Ashraf Hendricks/GroundUp)

Deur Raymond Joseph, GroundUp 

Die minister van handel en nywerheid, Ebrahim Patel, het aan die parlement gesê hy het ʼn regspan opdrag gegee om die termyn van die oorblywende lede van die skandaalgeteisterde Nasionale Loterykommissie se raad te beëindig.

Die huidige raad se termyn is veronderstel om op 31 Maart te eindig en dit is onduidelik of Patel beoog om die oorblywende raadslede voor dan te verwyder. Benoemings en aansoeke vir nuwe raadslede het Maandag gesluit.

Maar met net drie weke voor die einde van die termyn lyk dit onwaarskynlik dat nuwe raadslede, wat nog sekerheidsklaring moet ondergaan en met wie onderhoude gevoer moet word, reeds aangewys sal wees.

Patel het gereageer op ʼn beroep van Judy Hermans, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid, vir die onmiddellike ontbinding van die raad.

Patel het geantwoord dat die raad versuim het om “behoorlike administrasie en goeie bestuur” te verseker, veral ten opsigte van proaktiewe finansiering van begunstigde organisasies.

Met verwysing na ʼn onlangse hofuitspraak in ʼn saak wat die raad teen Patel aanhangig gemaak het, het Patel die kommissie beskryf as ʼn “instelling wat weier om verslag te doen oor sy optrede”.

Die huidige raad bestaan nou net uit drie lede en kan nie meer ʼn kworum bereik nie. Dit volg op die dood van Muthuhadini Madzivhandila, een van sy lede, verlede maand en die bedanking van adv. William Huma nadat hy gekonfronteer is met bewyse van beweerde korrupsie teen hom.

Die raad is boonop sonder ʼn voltydse voorsitter sedert die omstrede termyn van Alfred Nevhutanda, wat in November 2020 geëindig het. Die proses om ʼn nuwe voorsitter aan te wys is nou weer op die parlement se agenda en behoort binnekort in die parlement gedebatteer te word.

Oorlede Madzivhandila, Terry Tselane, die voormalige adjunkvoorsitter van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), en Barney Pityana, ʼn menseregteprokureur en kerklike, is op die kortlys vir die raad.

Nadat LP’s die voorgestelde kortlys bespreek het, sal dit aan Patel voorgelê word wat dan sal besluit wie aangewys word.

  • Lees GroundUp se oorspronklike berig hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

B-Man ·

Lees laaste paragraaf weer. Hy sal besluit watter kader die pos sal kry.

Alta Alleman ·

Oom ja asseblief. Niemand wen meer met die Lotto nie….en ek wonder hoekom?

Nie Verbaas ·

Dieselfde Patel met plakkies en kortbroek regulasie met eerste inperking? Klink dit na iemand wat logies kan redeneer? Net nog korrupte kaders sal gekies word en nie een van hulle kan geld wat nie aan hulle behoort uitlos nie.

Jacobus ·

Nou eers – neseiers veilig! Vat mos ‘n ewigheid dan is geld veilig versteek!

JohanR ·

Maak net seker jy pos hulle me hulle sloffies oor wit kouse en ‘n T-hemp!

Casper ·

Hoekom word Huma nie vervolg nie.Daar is mos bewyse van korrupsie teen hom.

Manie ·

Ek sal nie eers ‘n geroesde “washer” op die lotto spandeer nie, dis een groot bedrogspul van dag 1 af.

Boon ·

Klink of n oorledene ook genomineer is,
DIT sal my NIE verbaas as hy aangestel word nie.
NS lyk my die raad verteenwoordig nie land se demografie van kultuur , taal en geslag nie. Wonder of Menseregte Kommissie nie moet ingryp teen sulke diskriminasie nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.