Patoloog getuig ná vrou, kinders se vlammedood

Nazeema Ahmed in die getuiebank. (Foto: Verskaf)

Suraya Deedat en haar vier kinders het nog gelewe tydens die brand wat in 2011 hul dood veroorsaak het. Daar kon egter nie bepaal word of hulle bewusteloos was nie.

Dr. Candice Hansmeyer, die patoloog wat destyds die nadoodse ondersoeke gedoen het, het vandeesweek saam met Suraya se ma, Nazeema Ahmed, in die Johannesburgse landdroshof getuig in die geregtelike doodsondersoek na die dood van Deedat en haar kinders.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, verteenwoordig die familie van Suraya en haar kinders. Naeem, Suraya se man, is die enigste lid van die gesin wat die brand oorleef het.

Die eenheid glo daar is ʼn prima facie-saak en dat die staat vervolging behoort in te stel.

Hansmeyer het getuig dat al vyf liggame – ook dié van die kinders wat tussen ses maande en vier jaar oud was – brandwonde van só ’n aard opgedoen het dat daar ernstige skade aan hulle organe was. Die hof het ook gehoor dat die vuur só warm was dat van die kinders se ledemate heeltemal weggebrand het.

Adv. Gerrie Nel in die hof. (Foto: Verskaf)

Suraya se ma het getuig dat Suraya die enigste broodwinner was en haar man vir die duur van hul huwelik byna deurentyd werkloos was. Suraya het onder meer ’n onderneming bedryf waar sy hoenderstukke verkoop het. Ahmed het getuig dat haar dogter haar kort voor die brand gevra het om R50 000 in kontant, wat sy in ’n doeksak gebêre het, vir haar veilig te hou. Ahmed wou egter nie soveel geld in haar huis hou nie.

Suraya se familie weet nie wat ná die brand van die geld of die voorraad van Suraya se onderneming geword het nie. Ahmed het wel die doeksak op een van die foto’s van die toneel uitgewys. Die doeksak het nie gebrand nie.

Die brand het in die oggendure plaasgevind en Naeem het dieselfde dag nog die huis besoek om, volgens Ahmed, items bymekaar te maak wat nie deur die brand beskadig is nie. Dít ten spyte van die feit dat hy nie sy kinders of vrou se liggame wou uitken of die seremoniële roudae wou bywoon nie. Al besittings wat die familie van Suraya gekry het, was ’n paar persoonlike items wat iemand in ’n swart plastieksak op die sypaadjie gelaat het.

Ahmed het ook getuig dat sy en haar man gereeld gesien het dat Naeem vir Suraya in die huis toesluit wanneer hy die huis verlaat het en dat Suraya en Naeem nie ’n gelukkige huwelik gehad het nie. Ahmed het verder getuig dat Naeem se familie slegs vir hóm klere gebring het nadat iemand hulle gebel het om hulle in kennis te stel van die brand, ten spyte van die feit dat hulle nie op daardie stadium sou kon weet dat hy die enigste oorlewende was nie.

Volgens Ahmed het Naeem ook nie ná die brand met hul gesin kontak gemaak of gepoog om te verduidelik wat op die aand van die brand gebeur het nie.

Die geregtelike doodsondersoek na die dood van Suraya Deedat en haar kinders sal op 7 Desember voortgaan. Ahmed sal dan in kruisondervraging geneem word.

“AfriForum se private vervolgingseenheid hoop dat die geregtelike doodsondersoek tot geregtigheid vir Suraya se familie sal lei. Dit is belangrik dat ons by sake soos hierdie betrokke raak, omdat geregtigheid moet geskied vir hierdie gesin wat al vir nege jaar wag op antwoorde oor wat daardie aand gebeur het,” sê Natasha Venter, ʼn raadgewer by die private vervolgingseenheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.