Patoloog steeds deel van Oscar Pistorius-regspan

Pistorius huil in die hof terwyl daar getuig word oor boodskappe wat tussen hom en Steenkamp gestuur is. Foto: Chris Collingridge/TheStar/Pool/SAPA

Pistorius huil in die hof terwyl daar getuig word oor boodskappe wat tussen hom en Steenkamp gestuur is. Foto: Chris Collingridge/TheStar/Pool/SAPA

Die patoloog Reggie Perumal het nie van die moordbeskuldigde Oscar Pistorius se regspan onttrek nie, het die atleet se regsverteenwoordigers gesê.

Volgens mediaberigte het Perumal besluit om nie langer in Pistorius se moordverhoor te getuig nie. Dit kom glo te midde van bewerings dat Perumal se bevindinge rakende die nadoodse-ondersoek op Reeva Steenkamp die staat se saak steun.

Brian Webber, deel van Pistorius se regspan, sê in ʼn verklaring: “In die lig van ontstellende mediaberigte wat verkeerd en misleidend is, word ons gedwing om die volgende te verklaar. Dr. Reggie Perumal is deur die verdediging versoek om die nadoodse-ondersoek van Reeva Steenkamp by te woon na die tragiese gebeure van 14 Februarie 2013.”

“Hy bly ʼn lid van die verdediging en gaan voort om bystand te lewer as ʼn deskundige konsultant. Die mediaberigte wat beweer dat hy van die regspan ‘onttrek’ het, is van alle waarheid ontbloot. Die besluit om ʼn bykomende forensiese patoloog te betrek was as gevolg van Perumal se beskikbaarheid.”

Volgens berigte het Perumal aan AFP gesê hy kan nie bekend maak hoekom hy nie in Pistorius se moordverhoor gaan getuig nie. “Ek dink jy is bewus daarvan dat ek niks nou kan sê nie.”

Webber het dit ook duidelik gemaak dat die ballistiese kenner Wollie Wolmarans ook deel van die verdediging se span bly.

Pistorius se moordverhoor hervat op 5 Mei. Hy word aangekla van moord met voorbedagte rade nadat hy Steenkamp op 14 Februarie 2013 doodgeskiet het. Pistorius beweer dat hy haar as ʼn inbreker aangesien het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.