Patrice Motsepe gee miljoene vir ebola

Die mynmagnaat, Patrice Motsepe. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die mynmagnaat, Patrice Motsepe. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die sakeman Patrice Motsepe het meer as R10 miljoen geskenk vir ʼn ebola-fonds in Guinee om die virus te help beveg in Wes-Afrika.

Die donasie is namens die Motsepe-stigting en African Rainbow Minerals (ARM), waarvan Motsepe die uitvoerende voorsitter is, gemaak. “Mnr. Motsepe het ʼn paar weke gelede dié verbintenis tot Guinee gemaak en die toepaslike regulatoriese goedkeuring is Vrydag verkry,” het ARM in ʼn verklaring gesê.

Die donasie is sowat $1 miljoen (sowat R10,9 miljoen). “Die skenking sal Guinee help met kliniese bestuur, maatskaplike mobilisering, mediese koördinering en ander belangrike meganismes vir die beheer van die siekte,” het die maatskappy gesê.

“Die Motsepe-stigting sal voortgaan om by te dra en te help in die stryd teen ebola in Wes-Afrika en sal met verskeie belanghebbendes en ander belanghebbende partye saamwerk.”

Motsepe het ʼn beroep gedoen op Afrika en die internasionale mediese- en sakegemeenskap om voort te gaan om tot die stryd teen die siekte by te dra. “Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is ebola ‘n epidemie in sekere lande in Wes-Afrika,” het Motsepe gesê. “Maar die impak van die siekte het potensieel verreikende gevolge vir Wes-Afrika, Afrika en die wêreld. Dit is ‘n wêreldwye probleem wat vereis dat die internasionale gemeenskap moet saamwerk en ‘n einde bring aan die siekte.”

Die Associated Press het Maandag berig dat nagenoeg 5 000 mense reeds dood is aan ebola.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

EMK ·

Ag hoe EERBAAR (sic) – natuurlik is daar bybedoelings – kry seker afslag op sy inkomstebelasting vir die skenking! Ek mag verkeerd wees, maar jammer, mens raak sinies in die land.

HEVW ·

Hierdie skenkings kan vergelyk word met die watervoorsiening in die land. Voor dit by die eindpunt kom is daar soveel lekplekke genaamd korrupsie dat die stroompie aan die einde onvoldoende is.
Miljoene is goed, maar wat belangrik is, is die mense daartoe instaat en opgelei, en verantwoordelik om die werk te doen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.