Patricia de Lille bly Kaapse burgemeester

Patricia de Lille. (Foto: Patricia de Lille / Facebook)

Patricia de Lille hou haar pos en die Moederstad behou haar burgemeester nadat die twee DA-raadslede wat ʼn mosie van wantroue in De Lille voorgestel het, hul mosie teruggetrek het.

Dit is ʼn enorme oorwinning vir De Lille en bied die DA die geleentheid om die moddergooiery wat die party en die regering van Kaapstad die afgelope agt maande ontsier het, opsy te skuif en ʼn eensgesinde veldtog vir aanstaande jaar se verkiesing te voer.

Die burgemeester en die DA sou vanmiddag ʼn nuuskonferensie hou om te verduidelik wat die jongste kinkel is in ʼn politieke sepie wat Kapenaars nou al maande lank amuseer en frustreer.

Dit wil in hierdie stadium voorkom asof daar ʼn verskeidenheid faktore was wat ʼn rol in die jongste ooreenkoms gespeel het, maar dat baie daarvan nie maklik amptelik erken sal word nie.

Eerstens, en as mees direkte oorsaak, wil aanduidings dit hê dat die federale dagbestuur van die DA nie die vereiste instemming gegee het dat die DA-raadslede ʼn mosie van wantroue in De Lille kon instel nie. Die federale leierskap van die DA het hierdie week meer as een keer vergader om die party uit die pekel te probeer kry, en was kennelik verdeeld oor die kwessie.

Mmusi Maimane, leier van die DA (Foto: Twitter via ANA)

Tweedens het die DA-leier, Mmusi Maimane, se belofte van twee weke gelede om self in te gryp en ʼn politieke ooreenkoms te bewerkstellig, kennelik vrugte afgewerp. Van die oomblik dat hy daardie belofte gemaak het, was De Lille in ʼn veel sterker posisie, want enige mosie van wantroue sou van Maimane ʼn leuenaar maak en baie politieke kapitaal verspil. Die vreemde ding was dat De Lille se teenstanders in die stadsraad nie daardie strategiese punt ingesien het nie, en in hul oorywerigheid hulle misreken het.

Wat die DA uit die ooreenkoms kry, is twee dinge. Eerstens sal hulle nou as verenigde front vorentoe gaan in die verkiesing, sonder die voortdurende gekyf wat hul Kaapse ondersteuners vervreem en in die verleentheid stel, soos onlangse meningspeilings (openbaar en intern) duidelik aangetoon het. As hulle die vrede kan bewaar, kan die DA die Wes-Kaap op ʼn drafstap behou en fokus op groei in ander dele van die land.

Tweedens het die DA, na verneem word, besluit om die dissiplinêre proses teen De Lille van voor af te begin en vir die publiek oop te stel. Dit skep uiteindelik vir die DA die geleentheid om ʼn bietjie morele grond te herwin – en dis in elk geval waarop De Lille van die begin af herhaaldelik aangedring het, so dis ʼn wen alkant toe.

Die uitdaging wat vir die DA oorbly is wat om te maak met die gevolge van die hele debakel, en wat om daaruit te leer.

Eerstens behoort die uitspraak van die Wes-Kaapse hooggeregshof vir die DA te leer om by die letter van die wet (ook wat interne regulasies betref) te bly, en die oppergesag van die reg te respekteer, onder alle omstandighede.

‘n Foto van die DA se federale kongres by die skouterrein in Pretoria-Wes (Foto: ANA/Brenda Masilela)

Tweedens (en hierna het Maimane verwys in sterk bewoorde toesprake op die DA se provinsiale kongresse in Kaapstad en Bloemfontein verlede jaar, maar min mense het geluister) sal die DA iets moet doen om meer manierlike wyses te vind om interne geskille te besleg. Die onderlinge bitsigheid en gebrek aan ordentlikheid is baie onaantreklik vir kiesers.

Derdens het sommige senior DA-lede uiters ernstige bewerings teen De Lille gemaak die afgelope paar maande. Sommige hiervan, byvoorbeeld die verspreiding van lasterlike vervalsings onder die naam van die ouditeur-generaal, is reeds as leuens uitgewys. Ander kwessies hang nog in die lug. Gaan daar stappe kom teen diegene wat leuens, laster of voortydige veroordeling verkondig het? Van hierdie mense is in belangrike leiersposisies. Gaan hulle verantwoordbaar gehou word?

Laastens is daar die vraag wat gaan word van sommige van De Lille se mees uitgesproke kritici in die DA se Kaapse stadsraadskoukus, spesifiek die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, raadslid JP Smith. Daar is spekulasie dat Smith, ʼn vaardige en gerespekteerde politikus wat dalk sy afkeer in De Lille die oorhand laat kry het, verskuif kan word na die Wes-Kaapse wetgewer om die vakature te vul wat gelaat is deur die bedanking van Lennit Max.

Intussen sal Suid-Afrikaners oorgehaal sit om te sien of die DA se twee ystervroue, Helen Zille en De Lille, weer as karperde deur die DA ingespan sal word vir aanstaande jaar se verkiesing, nadat hulle so lank in onguns was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Andre ·

Mmusi wou haar weg hê uit die DA, maar het besef hulle het nie `n voet om op te staan en hulle gaan baie kluerling stemme verloor. Ek dink dit is ongelukkig klaar te laat vir die DA, julle het laas jaar al my stem verloor met al julle interne gemors.

Rynhardt ·

Sopas op E-Tv het die DA oftewel “Britse DA” dit duidelik gestel dat hy wil meer n versoenende rol he teenoor DA!Hoekom?Die DA en Mmusi Maimane weet as hul hof toe hardloop wag nog n pakslae op hul.Tot op hede kon die “Britse DA” met geen voldoende bewyse van korrupsie navore mee kom nie!As ek in De Lille se skoene was , sou ek die leierskap en ” Britse DA” hof toeneem en miljoene van hul eis!De Lille het vir die Afrikanertjies gewys dat jy die “Britse DA” nooit,ooit mag vertrou nie.Die DA is in vir groot verrassing,want hy gaan meer as n Britse beeldpoetser nodig he om hon op die wenpad te plaas.Dit bring my weer by die volgende.Het die afrikanertjies ooit hieruit geleer of het hul alweer klaar geval vir die “Britse DA?”DA kan nie vir Rynhardt flous nie,nooit ooit nie!!???☺☺☺

Irene ·

Asb julle wat so kla en kerm oor die DA gaan stem maar vir die die eff

Andre ·

Irene hoekom die EFF? Die Vryheidsfront plus is `n baie beter opsie.
Of neem jy aan almal wat nie DA wil stem nie is swart?

Hannelie ·

Ek wonder soms, nee ek wonder heeltyd……die Ministers is net in posisies oor al die “perks” en vet salarisse wat hulle kry. Verder beteken die meeste van hulle niks vir ons land.

Wouter ·

Hannelie, troos jou daaraan dat dit ‘n wêreldwye verskynsel is. Ja, in sommige lande is dit meer opsigtelik as in ander lande, maar dis oral teenwoordig.

FM ·

Irene ek stem. Die DA staan vir privaatbesit en is gekant teen onteiening sonder vergoeding. Die ou klomp twisgieriges moet asb eff toe hardloop.Ek dink ter wille van eenheid moet alle strydbyle begrawe word. Moet asb nie nou verder mekaar afkraak nie. As party van ons die DA so afkraak gaan die eff die amptelike opposisie word. DIT sal vir ons gewone Suid- Afrikaners fataal wees. Kyk maar net na hul beleid.Dink mooi daaroor. Sterkte DA.

Andre ·

Die Vryheidsfront plus staan baie meer agter privaat besit en gekant teen onteiening van grond, hulle praat ook nie van “white privilege nie” Mense die EFF sal nooit naby aan 12% kom nie, hou op strooi glo en dink bietjie vir julle self.

Wouter ·

En die klomp DA mensies wat op die foto so plegtig hand op die hart staan?
Sing hulle iets? Die DA se amptelike lied? Of daai nkosi liedjie?
Dalk die DA se saluut?

Ruiklont ·

Soos die ANC, kom dit voor of sommige partye meer in hul party se welstand belangstel as die welstand van die Land en sy Mense. Dit is tyd om emosies ter syde te stel, te dink en te stem vir die land se toekoms. Ek glo die meerderheid by ver wil nie ‘n land soos die res van Afrika hê nie

Irene ·

Andre ons wit mense wil nie saam staan nie ons moet teen anc of eff baklei

jaco ·

wat het de lille nou eintik verkeerd gedoen? bietjie korrupsie gepleeg. dis maar al. Dis nou ook nie Nkandla-styl korrupsie nie. In elk geval, met die salarisse en lekker byvoordele wat ALLE verkose raadslede en parlementslede van ALLE politieke partye kry, is hulle dadelik ryk mense. As daar dan nog verhogings ook op daardie lekker salarisse en byvoordele (motor, verniet vlieg, petroltoelae, onthaaltoelae) is, dan bly hulle ALMAL stil en protesteer nie daarteen nie. Hulle is ALMAL maar tog te bly om NOG te kry. So eintlik, selfs net met hulle gewone hemelhoë vergoeding en sonder 1 sent korrupsie, is hulle ALMAL maar skuldig aan ‘n vorm van korrupsie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.