Patricia de Lille geskors

Patricia de Lille. Foto: Twitter

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, is deur die DA geskors hangende ʼn ondersoek na bewerings van wanadministrasie in die metro.

Phumzile Van Damme, nasionale woordvoerder van die party, het in ʼn verklaring gesê die federale uitvoerende komitee van die party het De Lille van alle DA-aktiwiteite geskors hangende die bevindinge van hierdie ondersoek. De Lille is ook gevra om redes te verskaf hoekom sy nie as burgemeester van die Moederstad moet bedank nie.

Volgens Van Damme het die uitvoerende komitee van die DA bewus geword van ʼn aantal bewerings van wanadministrasie in die munisipaliteit. “Weens die aard en omvang van hierdie bewerings en die behoefte vir deursigtigheid en duidelikheid, is daar besluit om ʼn subkomitee op die been te bring om die saak spoedig te ondersoek,” het sy gesê.

“Die subkomitee het nou sy werk afgehandel en het genoegsame bestuursverwante uitdagings gevind in die DA se Stad Kaapstad-koukus wat ʼn negatiewe impak het op die stad se mandaat om effektiewe dienslewering vir die mense van Kaapstad te bied. Dit is daarom dat die leier die koukus opdrag gegee het om ʼn onafhanklike ondersoek van stapel te stuur om die bewerings te ondersoek.”

Van Damme het gesê behalwe vir De Lille se skorsing hangende die ondersoek, is geen ander amptelike besluit nog geneem nie.

“Die DA is toegewyd aan skoon en effektiewe administrasie daar waar ons aan bewind is. Daarom is dit van kardinale belang dat ons agter die kap van die byl kom rondom hierdie bewerings en dat vinnige leierskapsveranderinge gemaak moet word sou daar gevind word dat die bewerings waar is.”

Van Damme het gesê die party glo hierdie is die eerste stap na ʼn nuwe bestuur vir die Stad Kaapstad-koukus wat stabiel en funksioneel is en gefokus is om die hoogste kwaliteit van dienste aan inwoners te bied.

In Junie vanjaar is Helen Zille, die premier van die Wes-Kaap, ook van alle partyverwante aktiwiteite geskors nadat sy in ʼn reeks twiets bevraagteken het of “elke aspek van kolonialisme sleg was”. Haar uitsprake het wyd kritiek uitgelok.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eish ·

Dan was JP Smit tog reg met sy bewerings.
Tragies. Skokkend! Die kanker verteer eenvoudig almal wat voorkom.

honourable member ·

En so val al die helde. Hierdie land is maar net in een groot chaos gehul. Niemand is meer opreg nie en almal se geraamtes van uit die kaste uit.

snoefie ·

as die da so n groot behoefte aan “deursigtigheid en duidelikheid het, hoekom is musi maimane nog large and in charge na sy pragtige foto vroeer die jaar? daar eas klagtes teen zille, trollip en nou de lille. dit wil lyk of die da besig is met ,” suiwering” in die party.

lba ·

Ek is al week lank n kapenaar en kan seker n boek skryf oor munisipaliteite op ander plekke. As iets werk los dit. Almal se hande is in selfde pot so sal ook n nuwe regering hom self vesterk.

map ·

De Lille en Zille is ysters in ons politiek daarom sal die anc alles doen om van hulle ontslae te raak.

Mariana Van Niekerk ·

Kaapstad se munisipaliteit is inderdaad onbevoeg; om ń watermeter te kan lees, is ń saak van onmoontlikheid…. hul voeg nog ń paar syfers in die lesing en siedaar…..jy word beboet vir water wat maar nie eers deur jou pype gevloei het nie….dis ń tragedie dat hullle by die hernude lesing nog steeds nie bereid was om hul groot flater reg te stel nie. Duidelik is dat munisipaliteit hopeloos…..wat kan mens doen….hopelik neem ń bevoegde persoon die leisels en ruk munisipaliteitsdienste reg…..mag de Lille verantwoordelik en regverdig ondersoek word…..maka asb tog net die munisipaliteit in die Kaap ‘skoon’!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.