Patricia de Lille-hofsaak begin eers dán

Patricia de Lille. (Foto: Patricia de Lille / Facebook)

Die hofsaak waarin die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, en die Demokratiese Alliansie mekaar gaan pak oor haar gepoogde afdanking sal nou eers oor twee weke begin.

Die saak sou vanoggend voor ’n volbank regters van die Kaapse hooggeregshof afgeskop het, maar die regters het uitstel gevra tot 4 Junie omdat die saak so gekompliseerd is. Hulle voel hulle kort meer tyd om voor te berei.

Ter sprake is die DA se maande lange, maar tot dusver vrugtelose pogings om dissiplinêr teen De Lille op te tree en van haar as burgemeester ontslae te raak.

Daar was nou al mosies van wantroue, ’n sukkelende dissiplinêre verhoor en die gebruik van ’n nuwe terugroepklousule wat verlede maand by die DA se nasionale kongres in Pretoria aanvaar is.

De Lille meen die terugroepklousule is strydig met die land se Grondwet, en die feit dat die regters in ’n ongewone wending vir meer tyd gevra het juis weens die ingewikkelde aard van die feitestel, is veelseggend. Dit maak die deur oop dat die hof dalk kan terugval op die presedent wat ’n volbank van dieselfde hof baie jare gelede geskep het toe genl. Bantu Holomisa se UDM die grondwetlikheid van die destydse oorloopklousule bevraagteken het.

Indertyd het die Kaapse hooggeregshof die saak na die konstitusionele hof verwys sonder om self ’n bevinding te maak, terwyl daar op die konstitusionele hof se bevinding gewag is.

De Lille sit reeds met ’n soortgelyke oorwinning in die sakkie, want regter Pat Gamble se voorlopige bevel in die huidige saak is dat die status quo behoue moet bly tot die saak afgeloop het.

Dit kan dus nog lank duur voordat die DA die laaste van De Lille gesien het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

rollie ·

Ek verstaan nie hierdie ding nie. Die ANC roep dan links en regs lede terug (presidente inkluis) en geen haan kraai daarna nie

JDK ·

Die DA moet eerder die disiplinêre proses volg en dit oop maak vir die media, dit is al hoe ons kan sien wie is reg in dié geval. Ek het nog altyd vir hulle gestem, maar hulle viktimisering van De Lill sonder stawing met feite soos sy vra, maak dat ek nie sommer weer vir hulle sal stem nie…die enigste vraag nou is…wie bly oor om voor te stem?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.