Patricia de Lille-saak: Dit moet jy weet

Patricia de Lille, brugemeester van Kaapstad. Foto: Twitter

Die ware toets vir enige politieke party is wat hy doen wanneer hy gekonfronteer word met ernstige bewerings van korrupsie, wanadministrasie en bestuursfoute.

Dit is die Demokratiese Alliansie (DA) se reaksie op sy ondersoek na Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad. Die DA sê hy neem bewerings soos dié baie ernstig op en sal altyd optree, selfs al kan die besluite ʼn moontlike politieke koste dra.

Maroela Media het berig die DA het Sondag aangekondig De Lille word van wangedrag aangekla. Sy hou vir eers haar posisie, maar haar magte sal beperk word terwyl die party se federale regskommissie die aanklagte teen haar ondersoek.

Volgens die DA het hy talle navrae van die publiek ontvang oor die aangeleentheid en het die party in reaksie die volgende vraag-en-antwoord-stuk saamgestel:

Waarom was die DA tot nou so stil oor dié saak:

Die DA het probeer om die regte prosedure te volg en die regte van burgemeester De Lille en ʼn aantal raadslede reg deur die saak te handhaaf.

De Lille het egter volgens die party nie dieselfde inagneming vir die beste belange van die party of haar kolleges getoon nie. Die DA voer aan sy het misleidende openbare verklarings gemaak oor DA-prosedures en inisiatiewe van die raad, wat probeer het om die aantygings teen haar te ondersoek, en sodoende ʼn moeilike situasie vererger en met haar optrede die party in die steek gelaat.

Waarvan word De Lille aangekla?

Die DA se federale uitvoerende raad het ʼn subkomitee op die been gebring om duidelike spanning en verdeeldheid in die Kaapstadse koukus te ondersoek.

Die doel van die proses was om die groeiende verdeeldheid binne die koukus, onder leiding van De Lille, te ondersoek asook die groeiende lys van klagtes oor die aard en styl van die burgemeester se interne leierskap.

Die subkomitee het talle verhore gehou en getuienis van ʼn groot aantal raadslede aangehoor. Die burgemeester is ook genooi om voor die subkomitee te verskyn. Sy het die uitnodiging geweier en het, soos dit haar reg is, verkies om deur haar regsverteenwoordigers met die subkomitee te kommunikeer.

Hier is die klagte wat deur die subkomitee ondersoek word:

  • Bewyse van verdeeldheid binne die koukus van die Stad Kaapstad. Die verdeeldheid word glo deur die burgemeester se spesifieke leierskapstyl veroorsaak wat as onnodig outokraties, bakleierig en strydig beskou word teenoor die demokratiese beginsels van openheid en verdraagsaamheid. Dit het duidelik geword dat dit bygedra het tot die skep van ʼn verlammende kultuur van vrees onder verkose openbare verteenwoordigers sowel as amptenare van die Stad Kaapstad. Die gevolg hiervan was ʼn wesenlike impak op rasionele, verantwoordbare en deursigtige besluitneming in die stadsraad.
  • Die organisatoriese herstrukturering onder leiding van die burgemeester is glo in sommige gevalle gebruik om ervare amptenare in die stad te verwyder met die doel om hulle te vervang met amptenare wie se lojaliteit by die burgemeester lê.
  • Onder die burgemeester se leierskap is sleutelbesluitnemingstrukture van alle magte en funksies ontneem, oënskynlik met die doel om oorweldigende mag in die posisie van die burgemeester te sentreer. Dit is teenstrydig met die gesag en demokraties verankerde rol van die burgermeesterskomitee, portefeuljekomitees en subrade, asook die DA se verbintenis om die regering so na aan die mense as moontlik te bring.
  • Dit blyk dat die burgemeester ingemeng het by aanstellings op senior bestuursvlak binne die stadsraad en ander entiteite.
  • Effektiewe dienslewering is ondermyn deur ʼn groeiende gevoel van verlies van die koukus se vertroue in die burgemeester se leierskap en bestuur van die stad.
  • Die burgemeester se dikwels irrasionele, outokratiese en verdelende leierskapstyl word as besonders problematies beskou. Daar word beweer dat sy die grense van haar gesag dikwels oorskry en persoonlik direk ingemeng het by operasionele besluite soos die spesifikasie, toekenning en tydsberekening van tenders.
  • Dit het op sy beurt weer dikwels ondraaglike werksomstandighede vir professioneel gekwalifiseerde en wetlike gemagtigde amptenare geskep en ʼn werklike risiko van dreigende verlies van senior en bekwame tegniese personeel van die stadsraad geskep.

Klik hier om die aanklagte teen De Lille te lees.

Sal hierdie proses ʼn invloed op die droogtebestuur van die Stad Kaapstad hê?

Die DA is bewus van die noodsaaklikheid om stabiele en effektiewe bestuur in die Stad Kaapstad te verseker terwyl hierdie prosesse afgehandel word.

Die party het aanbeveel dat die koukus ʼn formele besluit aan die raad moet voorlê wat burgemeester De Lille verwyder van enige rol in die bestuur van die Stad se reaksie op die langdurige droogte gedurende die ondersoeke.

Ian Neilsen, die adjunkburgemeester, en raadslid Xanthea Limberg, burgemeesterskomiteelid vir water, informele nedersettings en afvaldienste, sal die oorhoofse politieke leierskap en beheer van die stad se reaksieplan oorneem.

Hulle moet aktief met die Wes-Kaapse provinsiale regering en die nasionale regering skakel om te verseker dat hulle ook hul verpligte rol speel om tot ʼn oplossing vir die krisis in operasionele sowel as finansiële wyse by te dra.

Waarom gee die DA nie net vir De Lille die trekpas nie?

Die DA as ʼn politieke party het geen mandaat om De Lille, wat ʼn verkose beampte van die Stad is, af te dank nie. Die party kan net ʼn aanbeveling aan die raad doen. Slegs die raad het die mag om die burgemeester te verwyder.

Hoe lank sal dit neem voor ʼn besluit oor De Lille gemaak word?

Die DA het die regskommissie versoek om hulle ondersoeke so vinnig as moontlik af te handel sodat daar ʼn besluit oor die saak geneem kan word. Daar moet egter deurentyd respek gehandhaaf word vir prosedurele billikheid en geregtigheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Olson ·

Die hoop wat die DA nog gehad het, is geskiedenis. Die DA sal soos die destydse NP hulle skaar by die ANC. Hulle was nou al DP, toe DA en volgende sal wees DANC

Olson ·

Die DA is sy eie vyand en dit beteken die einde van die DA. Hulle was eers DP, nou DA, en volgende sal dit wees DANC. Groot en proffesionele mense wat soos kinders kla as hulle aangespreek word. DA word asb volwasse.

Basson ·

Ek volg hierdie saak nogals op Twitter, wat ‘n baie wye vangnet het van inligting (en ook disinformasie!)
Dit lyk my dit wat die DA ons wil wysmaak is nie noodwendig korrek en hier is, soos gewoonlik, drie kante van ‘n saak.

BOLANDER ·

Ek het nog altyd volle vertroue in die DA gehad. En daarom het ek nog altyd vir hulle gestem. Maar nou weet ek nie meer so mooi nie. Wat hulle besig is om te doen is kommerwekkend!!!!!. Asb doen wat julle veronderstel om te doen, ons te beskerm en nie binne in die party te baklei nie.!!!!

HPV ·

So begin die wiele afval, die begin van die einde, hierkom ons ANC. Die DA beter ‘n leier kry wat minder praat en meer doen of baie praat en nog meer doen.

John ·

Die DA is soos enige politieke party nie volmaak nie en die beeld van foutlose en volmaakte leiers sou die een of ander tyd skipbreuk ly. De Lille speel nou martelaar en roep kerk en voetsoldate nader om die trane te stop. Sy was nie die enigste persoon wat Kaapstad opgebou het nie hoewel sy al die krediet vra. Die DA-leierskap staan op wankelrige voete wat sy sterkte gevind het in die barste in die ANC-struktuur. Miskien moet die party nou ‘n beleid bou… en nie net aanklaer speel nie… of dit kan gebeur is ‘n ope vraag.

Jacques venter ·

Die DA doen wat die ANC nie doen nie. Die DA ondetsoek n saak ter wille van die burgers.
Die ANC verbloem alles.
Die Vf+ doen niks.
My hoop is op die DA. As die DA n koalisie met n gematigde party vorm is dit baie goed

N Lourens Reitz ·

Nee mnr Venter jy is nie nou objektief in jou kommentaar nie.

Jan Brits ·

Dit is nie die eerste keer dat die DA met die leiers in die provinsie stry kry nie. Wat van Helen Zille ?? Wat het die storie geword ?

Kobus ·

Ek hoop en vertrou hierdie aangeleentheid gaan vinnig afgehandel word en dat die persoonlike onderonsies by gelê man word want dit pas die ANC soos n handskoen. So vertrou me de Lille 100% en glo sy is onskuldig. Kom nou DA,julle gevegte baat niemand nie

Pieter ·

Waarom so sukkel om Patricia uit te sorteer? Elke dag verloor die DA meer steun.

Cherokee ·

So vir julle DA-aanhangers (lees De Lille fans) maak dit glad nie saak of sy skuldig is aan alles wat haar toegedig is nie. Wat van die bewerings dat sy haar huis opgeknap het met geld uit die stadsraad se koffers? Wanneer julle iemand se naam op jul t-hemde dra kan daardie een niks verkeerd doen nie (dink julle),

Christo ·

Die feit dat die DA so lank neem om die saak af te handel, rig baie skade aan die party se beeld. Die gerugte wat die rondte doen en deur die media gebruik word om dit ‘nuuswaardig’ te maak , val so in die kraal van die opposisie. Die DA is besig om sy eie keel af te sny.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.