Patricia de Lille: ‘Skorsingsproses was blatant onbillik’

Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad (Foto: Patricia de Lille / Facebook)

Patricia de Lille, Kaapstad se burgemeester wat deur die DA geskors  is hangende ʼn ondersoek na bewerings van wanadministrasie in die stad, is van mening die party het nie genoeg rede om haar te verwyder nie.

“Die DA het hul redes vir my skorsing gedeel. Ek is van mening dat dit nie my skorsing of verwydering regverdig nie,” het sy in ʼn verklaring gesê.

“Ek het geen geheim daarvan gemaak dat ek regstappe sal oorweeg as die DA besluit om my uit my posisie as burgemeester van Kaapstad te verwyder nie. Aan stuur van ʼn span, het ons hard gewerk om die administrasie tot die beste in die land te verhef.”

Sy het gesê sy is van mening dat die “prosesse” wat gevolg is “blatant onbillik” teenoor haar was.

“My regspan sal dit aan die federale uitvoerende komitee oordra, soos hulle al herhaaldelik die afgelope paar maande gedoen het. Ek is tans daarop gefokus om my antwoorde aan die uitvoerende komitee saam te stel oor bewerings rakende die sogenaamde Steenhuisen-verslag. My huidige fokus is om so deeglik as moontlik op die meriete van die bewerings in die verslag te reageer.”

De Lille het gesê sy bly hoopvol dat sy die komitee kan oortuig om nie die drastiese stap te doen om ʼn mosie van wantroue teen haar in te stel nie. “Maar as ons dit nie kan doen nie, sal ek alternatiewe moet oorweeg om my reputasie te verdedig.”

Maroela Media het Vrydag berig die DA se federale uitvoerende komitee het De Lille van alle DA-aktiwiteite geskors hangende die bevindinge van die ondersoek. De Lille is ook gevra om redes te verskaf hoekom sy nie as burgemeester van die Moederstad moet bedank nie.

Volgens die party het die uitvoerende komitee bewus geword van ʼn aantal bewerings van wanadministrasie in die munisipaliteit. “Weens die aard en omvang van hierdie bewerings en die behoefte vir deursigtigheid en duidelikheid, is daar besluit om ʼn subkomitee op die been te bring om die saak spoedig te ondersoek,” het Phumzile Van Damme, nasionale woordvoerder van die party, gesê.

“Die subkomitee het nou sy werk afgehandel en het genoegsame bestuursverwante uitdagings in die DA se Stad Kaapstad-koukus gevind wat ʼn negatiewe impak het op die stad se mandaat om effektiewe dienslewering vir die mense van Kaapstad te bied. Dit is daarom dat die leier die koukus opdrag gegee het om ʼn onafhanklike ondersoek van stapel te stuur om die bewerings te ondersoek.”

Van Damme het gesê behalwe vir De Lille se skorsing hangende die ondersoek, is geen ander amptelike besluit nog geneem nie. De Lille het tot vandag kans om op die bewerings te reageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

TELEURGESTELDE ·

DIE DA SE ONBILLIKKE ONREGVERDIGE OPTREDES HET ONS VERGOED UIT DIE PARTY GEDRYF .

jaco ·

Met die waterkrisis in Kaapstad het ‘n maatskappy met behoorlike kennis ‘n ontsoutingsvoorstel aan De Lille en haar DA-stsdsraad voorgelê. Dit was ‘n plan wat teen bitter min extra onkoste die waterkrisis voldoende sou oplos. Maar De Lille en haar DA-stadsraad het dit summier afgeskiet, want die maatskappy pas glo nie behoorlik regstellende aksie toe nie en sy bestuur is nie behoorlik BEE-compliant nie.
So dis hoe De Lille en die DA eintlik lyk…

koos1 ·

En Zille s’n was omdat sy die waarheid gepraat het?
Is die DA besig om skoon te maak?

Tania ·

Miskien moet die Burgemeester van Kaapstad (en die DA in sy geheel) eerder daarop fokus om die droogte aan te spreek in plaas daarvan om in binnegevegte betrokke te raak.

Luke ·

Mmusi het dit duidelik gemaak wie en hoe hy werklik is. Mense se oë sal nog oopgaan teenoor die ou.

Dirk ·

Mense, maak jul oe oop. Die DA is net soos die ANC en Maimane gaan nog alle blankes verwyder uit die DA.

Andre Traut ·

Ek het vanoggend n epos van die da gekry wat sê die anc is dood, en hierdie is hoe dit in hul eie huis gaan??? mmusi sal werklik moet vee voor sy eie deur

Koos B ·

Ek is klaar met die DA hulle veg nou ook onder mekaar.Ek wil nie ‘n draadsitter wees nie so waarheen nou ?

Pop ·

Ons is soos n booitjie in die oop see sonder n stuur. Daar is geen party waarop mens kan steun nie. Maimane gee net om vir homself nes die ander in die politieke arena.

John ·

Die DA het vir te lank ‘n hoogheilige dominee-houding ingeslaan in plaas van om daadwerklike verskille te maak, verhoudings op te bou en ‘n beleid te formuleer. Mmusi bewerk sy eie partytjie se ondergang/leegloop en hy sal self die stukke daarna moet optel en die skottelgoed was. Hy was die verkeerdste man vir die pos. ‘n Mens kan jou nie ‘in-houding’ in ‘n hogere pos nie en seen van Bo afdwing omdat jy ‘n kerkbaas was nie. Kyk mooi: Die antie-tannie het dit ook probeer mbv ‘n indrukwekkende blouligbrigade, presidensiele uitrustings en ‘skinkborde’ belaai met son, maan en sterre, maar dit help toe niks. Die 2019 -verkiesing gaan vele skokke oplewer ook vir die DaDa’s.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.